Suid-Afrika se hoop om die toernooi te wen het sommer ná die eerste ronde al van een van die toernooi-gunstelinge Brandon Grace na Charl Schwartzel verskuif en hý het in die derde ronde Saterdag tot die negende plek teruggesak.
Schwartzel is nou saam met Keegan Bradley, Sergio Garcia en Patrick Reed op 211. Dit is twee houe onder baansyfer nadat hy Saterdag twee houe aan syfer afgestaan het. Dit gee hom nie juis ʼn kans om die titel te wen nie.
Die Sweed, Henrik Stenson, beklee tans die eerste plek op 201 – 12 houe onder die baansyfer en een hou voor die Amerikaner en 2013-Ope-wenner Phil Mickelson, wat eers teen die einde sy voorsprong afgestaan het.
Sou Mickelson dit regkry om Stenson verby te steek en vanjaar se toernooi te wen, word hy die sewende agtereenvolgende Amerikaner wat die Britse Ope op die Royal Troon-gholfbaan wen.
Van die vier Suid-Afrikaners wat die afsnypunt oorleef het, het Richard Sterne (nou op 5-oor), Zander Lombard (6-oor) en Grace (7-oor) ʼn droewige dag agter die rug nadat al drie op die telbord teruggesak het.
Die Ope-debutant Haydn Porteous was Saterdag die enigste Suid-Afrikaanse ligpunt nadat hy vier houe onder syfer aangeteken het en nou op 214 staan – een hou oor baansyfer.
♦ Hoewel Saterdagoggend redelik sonnig was, het reën laatmiddag weer op die Royal Troon-baan uitgesak. Ligte reën en sterk wind word weer vir die laaste ronde voorspel en kan die uitslag beïnvloed.
Voorste tellings:
NAAM | LAND | 1 | 2 | 3 | TOTAAL |
Henrik Stenson | Swede | 68 | 65 | 68 | 201 |
Phil Mickelson | VSA | 63 | 69 | 70 | 202 |
Bill Haas | VSA | 68 | 70 | 69 | 207 |
Andrew Johnston | Eng | 69 | 69 | 70 | 208 |
J.B. Holmes | VSA | 70 | 70 | 69 | 209 |
Soren Kjeldsen | Den | 67 | 68 | 75 | 210 |
Steve Stricker | VSA | 67 | 75 | 68 | 210 |
Tony Finau | VSA | 67 | 71 | 72 | 210 |
Keegan Bradley | VSA | 67 | 68 | 76 | 211 |
Patrick Reed | VSA | 66 | 74 | 71 | 211 |
Charl Schwartzel | RSA | 72 | 66 | 73 | 211 |
Sergio Garcia | Spanje | 68 | 70 | 73 | 211 |
Tyrrell Hatton | Eng | 70 | 71 | 71 | 212 |
Zach Johnson | VSA | 67 | 70 | 75 | 212 |
Kevin Na | VSA | 70 | 69 | 73 | 212 |
Dustin Johnson | VSA | 71 | 69 | 72 | 212 |
Jim Herman | VSA | 70 | 70 | 72 | 212 |