SA gholfspeler toets positief vir Covid-19

Dylan Frittelli. Foto: ANA.

Die Suid-Afrikaanse gholfspeler Dylan Frittelli het positief vir Covid-19 getoets terwyl hy by die Amerkaanse PGA-toer in aksie is.

Hy het juis verlede week die valbyl van die Travelers-kampioenskap misgeloop ná rondes van 71 en 70.

“As deel van die PGA-toer se voorkomingsproses het Dylan Frittelli positief vir Covid-19 getoets,” het die organiseerders in ’n verklaring gesê.

Die Suid-Afrikaner het hom aan die Rocket Mortage Classic-toernooi onttrek, maar hy sal die PGA-toer se volle ondersteuning tydens sy selfisolasie-periode geniet.

Op sy beurt het Frittelli gesê dat hy geen simptome ervaar nie.

“Ek ervaar tans geen probleme nie en ek voel fisiek baie goed. Ek was verbaas en teleurgesteld toe ek my toetsuitslag sien,” het hy gesê.

“Ek is baie dankbaar jeens die toerorganiseerders vir hul hulp en regulasies; iets wat ek sal volg tydens die periode van selfisolasie. Ek sien uit om weer gholf te speel wanneer dit veilig is om dit te doen.”

Frittelli is die vierde speler op die PGA-toer wat positief vir Covid-19 getoets is nadat spel op 11 Junie hervat is.

Nick Watney, Cameron Champ en Denny McCarthy het almal reeds positief getoets.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.