SA Ope: Bekker droom oor glorie

Oliver Bekker kon nog nooit ʼn toernooi in die Europese reeks wen nie, maar kan wel met sewe oorwinnings in die Sonskynreeks spog.(Foto: Gregory Shamus/Getty Images North America/AFP)

Een van enige sportman of -vrou se grootste remskoene is om nie onnodige druk op hulself te plaas nie – veral in gholf.

Dit het die 36-jarige Oliver Bekker, wat in Pretoria gebore is, op Paul Roos-hoërskool in Stellenbosch op skool was en ʼn lid van die Stellenbosse gholfklub is, vroeër vanjaar opnuut besef. Nou pluk hy die vrugte van sy nuwe denkpatroon.

Bekker, wat nog nooit ʼn toernooi in die Europese reeks kon wen nie, maar wel met sewe oorwinnings in die Sonskynreeks spog, loop met drie houe voor ná die tweede ronde van die Suid-Afrikaanse Ope wat by die Gary Player-buiteklub by Sun City gespeel word.

Bekker het 67 houe in Vrydag se ronde aangeteken nadat hy 65 houe in die eerste ronde aangeteken het. Hy is op 132 op 12 houe onder die baansyfer.

Hy word gevolg deur sy goeie vriend en Paul Roos-skoolmaat, die 35-jarige Justin Harding, asook Niel Schietekat van Johannesburg, wat albei op 135 nege houe onder die baansyfer is.

Hulle word gevolg deur Daniel van Tonder, Hennie du Plessis en Lyle Rowe (al drie op 136, -7).

Volgens Bekker is sy nuwe uitgangspunt om elke ronde net onder baansyfer te voltooi, dit maak nie saak of dit met een, twee of drie houe is nie.

Vrydag was dit in die kol toe hy drie voëltjies oor die laaste vyf putjies behaal het (twee daarvan met delikate kaphoue neffens die setperk) om van sy naaste teenstanders af weg te trek.

Bekker het ná sy ronde gesê dit is enige speler se droom om sy naam op die wennerstrofee te kry, veral omdat hy verlede jaar se toernooi weens ʼn besering misgeloop het.

*  By die Albany-gholfklub in die Bahamas het die organiseerders van die Hero–wêrelduitdaagtoernooi raakgevat met hul keuses.

Altesame 17 van die wêreld se voorste 25 spelers (daar is wel nie een Suid-Afrikaner nie!) is onder die 20 spelers wat uitgenooi is om mee te ding om prysgeld van $3 500 000 (sowat R56 miljoen).

Die spiertier Bryson DeChambeau loop ná die tweede ronde met een hou voor voor sy aartsvyand Brooks Koepka en nog twee van sy Amerikaanse landgenote, Collin Morikawa en Tony Finau (-10), gevolg deur nog ʼn Amerikaner, Daniel Berger (-9), en dan Tyrrell Hatton van Engeland en Sam Burns van die VSA saam op -8.

Rory McIlroy van Noord-Ierland (-7) is ook binne trefafstand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.