SA Ope: Bezuidenhout moet net die sakkie toeknoop

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout. (Foto: Rob Carr/Getty Images/AFP)

Die deur staan wawyd oop vir Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout om Sondag by Sun City die Suid-Afrikaanse Ope-gholfkroon by sy Dunhill-kampioenskap te voeg wat hy verlede Sondag op Leopard Creek buite Malelane gewen het.

Bezuidenhout het in Saterdag se derde ronde weer 67 houe op sy telkaart ingevul en is op 201 vyf houe voor sy naaste teenstanders, sy landgenoot Dylan Frittelli en die Wallieser Jamie Donaldson (albei op 206).

Hulle word op 207 gevolg deur JC Ritchie en Dean Burmester.

Die 26-jarige Bezuidenhout wat van Delmas kom, is 15 houe onder baansyfer nadat hy in al drie rondes 67 houe op sy telkaart ingevul het.

Saterdag se ronde het ses voëltjies ingesluit en hy het net een keer, op die kort derde putjie, ʼn hou aan baansyfer afgestaan.

Hy spog reeds met 17 voëltjies in die eerste drie rondes.

* In Dubai het die Fransman Antoine Rozner sy eerste Europese toernooi gewen toe hy voor in die Dubai-kampioenskap geëindig het nadat hy 64 houe in die vierde en laaste ronde aangeteken het.

Rozner, wat maar 204de op die wêreldranglys is, het Saterdagoggend vier houe agter die oornagvoorloper, Andy Sullivan van Engeland, afgeslaan.

Maar ná ʼn arend en sewe voëltjies het Rozner verby Sullivan geskuif.

Rozner het 25 houe minder as baansyfer aangeteken en twee houe voor Sullivan (70), Michael Lorenzo-Vera (65), Matt Wallace (68) en Francesco Laporta (66) geëindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.