SA Ope: Christiaan sluit hom by gholflegendes aan

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout. (Foto: SA Open/Twitter)

Sid Brews, Bobby Locke, Gary Player, Harold Henning, Ernie Els, Retief Goosen, Louis Oosthuizen, Branden Grace… en nou ook Christiaan Bezuidenhout. Dit is van Suid-Afrika se gholflegendes wie se name reeds op die Suid-Afrikaanse Ope-trofee pronk. Sondagmiddag kon die graveerder ook dié van Bezuidenhout, wat in Delmas (langs die gholfbaan) grootgeword het, se naam by dié uitgelese groep gholfspelers voeg.

Die 26-jarige Bezuidenhout, wat verlede week met die prys by die geldryke Dunhill-kampioenskap by Leopard Creek buite Malelane weggestap het, het Sondag op Sun City die SA Ope by sy versameling gevoeg.

Dit was slegs sy tweede titel in die Europese reeks, maar hou dié man maar dop, hy gaan dit nog baie ver in Europa en Amerika bring.

Bezuidenhout, koel, kalm en bestendig, het die laaste ronde in 69 houe voltooi nadat hy 67, 67 en 67 houe in die eerste drie rondes aangeteken het.

Hy het op 270 houe geëindig, 18 houe minder as die baansyfer. Sy vier rondes het 21 voëltjies ingesluit en hy het net drie keer houe aan baansyfer (oor 72 putjies) afgestaan.

Die Wallieser Jamie Donaldson (275) was tweede nadat hy 69 houe in die vierde ronde aangeteken het.

Hy is in die derde plek gevolg deur ʼn imposante Dylan Frittelli (277) met die Bloemfonteiner Dean Burmester op 278 en JC Ritchie op 279.

Casey Jarvis (287) was die voorste amateur en het 25ste geëindig om die Freddie Tait-trofee te wen.

* Bezuidenhout het Sondag R2,8 miljoen gewen. Sy prysgeld langs die Krugerwildtuin was groter, maar daar is niks wat ʼn Suid-Afrikaanse gholfspeler eerder wil bereik as om sy naam op die SA Ope-trofee te sien pryk nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.