SA Ope: foutlose Paisley wen sy eerste Europese toernooi

Chris Paisley reageer na sy SA Ope-oorwinning (Foto: Twitter @BMWSAOpen)

Branden Grace en Chris Paisley, wat Sondag in die laaste ronde van die SA Ope-gholftoernooi laaste afgeslaan het met die Engelsman ʼn hou beter daaraan toe as Grace, het toe nie vir die verwagte taai tweestryd gesorg nie.

Trouens, Grace het wel oor die laaste ronde ná ʼn voëltjie en ʼn arend oor die eerste twee putjies gelyk getrek nadat Paisley by die tweede ʼn voëltjie behaal het, maar daarna het die ronde vir die Suid-Afrikaner op die Glendowerbaan in Ekurhuleni uitgerafel.

Paisley is dus die nuwe Suid-Afrikaanse Ope-kampioen met sy eerste oorwinning in die Europese reeks nadat hy ʼn foutlose laaste ronde van 66 houe met sewe voëltjies gespeel het.

Sy toernooitelling was 267 houe teenoor Grace se 270 nadat die Suid-Afrikaner die laaste ronde in 68 goue voltooi het.

♦  Die twee-oor wat Grace by die sesde putjie se syfer drie gespeel het, het miskien die kopskuif gemaak wat Paisley in beheer van die SA Ope se jaagtog na die titel geplaas en in homself laat glo het.

Grace was skielik ná sy goeie begin twee agter en toe Paisley boonop by die sewende ʼn voëltjie aanteken, was Grace skielik op die agtervoet met sy 35 teenoor Paisley se 33 oor die eerste nege – dus ʼn voorsprong van drie houe vir Paisley.

Paisley het boonop ná die omdraaislag by die tiende nog ʼn hou teen syfer ingehaal terwyl Grace by die twaalfde nog ʼn hou afgestaan het. Paisley was toe vyf voor en het sy voorsprong by die 13de met sy vyfde voëltjie na ses houe vergroot.

Grace se tweede arend van die vierde ronde – en sy vyfde van die toernooi – op die 13de putjie het hom egter ʼn sprankie hoop gegee.

En toe het sy twee voëltjies by die 15de en 16de teenoor een deur Paisley by die 15de het hom egter slegs tot drie houe agter die Engelsman gebring. Maar verloor is verloor  …

♦  Grace het nie net Paisley gehad om dop te hou nie. ʼn Hele paar spelers was in ʼn stadium ná goeie rondes by Grace verby en hy het gevaar geloop om nie eers tweede te eindig nie.

Sy landgenoot JC Richie het sy tweede opeenvolgende 65, sewe onder vir die ronde, gespeel en op 272 op 16 houe beter as syfer klaargemaak; Zimbabwe se Scot Vincent  was 14 onder vir die toernooi, soos ook Jacques Kruiswijk van Suid-Afrika ná sy tweede 68 houe in die toernooi.

♦  Hennie Otto se 64 Sondag het hom nie die voorlopers laat bedreig nie maar ongetwyfeld sy bankbalans met sy 11 minder as syfer 277 die wêreld se goed gedoen.

♦  Suid-Afrika se twee veteraan major-wenners, Retief Goosen (agt onder vir die toernooi) en Ernie Els (agt onder) het die jonges gewys hoe dit gedoen moet word en Charl Schwartzel was met twee 69s en twee 70s nooit in die titelwedloop nie.

Hy was gesamentlik 15de op tien onder vir die toernooi.

Vir die volledige tellings en ontledings, klik op die skakel 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.