SA Ope: Schwartzel se kans beste van die Major-wenners

Charl Schwartzel – sterk aanspraakmaker (Foto: ANA)

Daar sal vyf wenners van gholf-Majors onder die 156 spelers wees wat Donderdag op die Glendowerbaan in Ekurhuleni in die wêreld se tweede oudste nasionale gholftoernooi afslaan.

Ernie Els, wat sedert 1992 reeds vyf keer die titel by die SA Ope gewen het, is een van die vyf Major-wenners, maar nie onder die gunstelinge om dit op 48-jarige ouderdom weer reg te kry nie.

Net so Retief Goosen, ook 48 en ook een van Suid-Afrikaanse gholf se grotes, wat saam met Els twee keer die Dunhill-beker saam met David Frost gewen het.

Natuurlik kan hulle dit vanjaar regkry, maar daar is ʼn paar jonges wat vuurwarm gholf speel en deur Els as moontlike “groot spelers” beskryf word en groter aanspraakmakers op die titel is.

Trevor Immelman, wat soos die ander twee Major-wenners in die SA Ope, Charl Schwartzel en die hotklou Kanadees, Mike Weir, die Masters gewen het, speel ook.

Vergeet egter van Immelman. Hy kwalifiseer die afgelope paar jaar nie sommer meer vir die laaste twee rondes nie en is tans 1 925ste op die wêreldranglys.

Weir het weens beserings en persoonlike probleme lank afgelê, word in Mei ook 48 en is sekerlik ook nie ʼn bedreiging nie.

Charl Schwartzel is van die Major-wenners die gunsteling. Sy wisselvalligheid, veral met die wegspring, tel dalk teen hom.

Hy sal deeglik deur onder meer die wenners in die Europese reeks, Branden Grace, Dylan Frittelli, Brandon Stone, Haydn Porteous, George Coetzee, Thomas Aiken en Dean Burmester getoets word.

Grace, wat die Sun City-toernooi twee maande gelede gewen het en ook verlede jaar die 157 jaar oue rekord van 62 houe in ʼn Major opgestel het, het ʼn goeie 2017 agter die rug.

Met hierdie selfvertroue kan dit sy Ope-toernooi wees.

♦  Die SA Ope word vanaf 10:00 op al vier dae op Supersport uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.