SA Ope: Twee onbekendes voor; Goosen verras

Op ʼn dag waar die twee nuwe gesamentlike voorlopers, Chris Paisley van Engeland en die Fransman Adrien Saddier, onderskeidelik sewe en nege houe minder as baansyfer gespeel het, was die vyf onder van Retief Goosen die lekkerste verrassing.

Dié 48-jarige veteraan is nou na sy 67 in die gesamentlike vierde plek op agt houe onder baansyfer na twee rondes. Dit is vyf houe agter Paisley en Saddier op 131 houe, 13 onder die baansyfer.

Goosen was die bestendigheid vanself, wat hy met stukkies briljante spel afgewissel het. Hy het slegs een hou, op die syfervyf 13de, afgestaan, en het ʼn arend en ses voëltjies aangeteken.

♦  Jacques Kruiswijk van Suid-Afrika, ʼn man wat oor die jare nie die wêreld aan die brand gespeel het nie, het vyf houe beter as syfer gespeel en is nou op 135 houe, nege onder syfer, alleen in die derde plek.

♦  Albei die ietwat onbekende voorlopers het Vrydag, soos Chase Koepka op die eerste dag, verras met hulle goeie tellings.

Koepka en Branden Grace was na die eerste ronde op sewe onder die gesamentlike voorlopers en is nou in die gesamentlike vierde plek nadat hulle albei Vrydag 71 houe gespeel het. Goosen en Scott Vincent, is saam met hulle op 136 houe.

♦  Ernie Els, soos Goosen 48 jaar, het aan Suid-Afrika se jonges gewys hy is nog ʼn faktor en is saam met manne soos ondermeer Darren Fichardt, Richard Sterne, Dylan Frittelli en James Kingston op drie onder 141  – miskien te ver agter om nog te wen, maar steeds in die boonste kwart van die toernooi.

♦  Charl Schwartzel, wat saam met Grace van die tiende bof afgeslaan het, het ʼn foutlose eerste nege gespeel en twee voëltjies aangeteken, maar toe op die eerste twee putjies na die omdraaislag elk ʼn brouhou ingevul. Sy 70 plaas hom na twee rondes in die gesamentlike 14de plek, en dit sal uithaler-gholf van hom verg om steeds die titel te wen.

Vir die volledige tellings en ontledings, klik op die skakel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.