SA ‘plaasvervanger’ op Nedbank-voorloper se hakke

Darren Fichardt het eers Donderdagoggend, kwalik ʼn uur voordat die eerste spelers in die Nedbank-uitdaagtoernooi op Sun City se Gary Playerbaan sou afslaan, verneem dat hy aan die toernooi sal deelneem.

Hy is op kort kennisgewing nader getrek in die plek van die beseerde Engelse speler Anthony Wall.  Fichardt het toe met ʼn goeie 71, een onder syfer, weggetrek en het Vrydag nog drie houe teen syfer gewen om op ʼn telling van 140, vier houe onder syfer, in die gesamentlike tweede plek te gaan slaap.

Dié telling het hom net twee houe agter die Fransman Victor Dubuisson geplaas wat, op twee houe beter as syfer, nog drie putjies moes voltooi toe 22 spelers weens weerlig moes halt roep. Hulle het om 17:50 weer begin speel, en Dubuisson op die laaste putjie ʼn brouhou ingevul.

Die eerste ronde-voorloper Bernd Wiesberger het teruggesak toe hy in die tweede ronde ses houe aan syfer afgestaan en een oor geëindig het.

♦  Charl Schwartzel is steeds tweede van die Suid-Afrikaners. Hy het Vrydag een oor gespeel en is na twee rondes op 142 houe self nog sterk in die wedloop; Branden Grace, wat Donderdag so goed weggespring het, het Vrydag ʼn teleurstellende 75 by sy 68 van die eerste ronde gevoeg maar is op een onder syfer steeds stewig geplaas om toe te slaan.

Dit is ook die geval met Louis Oosthuizen wat op syfer 144 staan nadat hy Vrydag twee houe swakker as syfer gespeel het.

♦  ʼn Paar van die groot gunstelinge is kort op die voorlopers se hakke. Tyrrell Hatton is na 70 houe Vrydag op drie onder, saam met Ross Fisher (71 Vrydag) en verlede jaar se wenner Alex Noren, wat Vrydag 72 gespeel het.

Thorbjorn Oleson en Padraig Harrington is albei twee houe swakker as baansyfer daaraan toe nadat hulle Vrydag onderskeidelik 75 en 72 op hul kaarte ingevul het.
Jeunghun Want (79 Vrydag na sy 73 Donderdag) is op 152 houe feitlik verseker uit die wenwedloop, en die bestendige jong Engelse speler Matthew Fitzpatrick se 77 Vrydag plaas hom tien houe agter Dubuisson.

♦   Van die ander Suid-Afrikaners is Hayden Porteus met sy tweede 73 en Richard Sterne met syfer 72 Vrydag albei op 146 houe agt houe agter die voorloper – en Dean Burmeister en George Coetzee se syfer-tellings Vrydag help hulle nie veel na die eerste ronde vyf oor wat albei gespeel het nie.

Dylan Frittelli (op plus ses na die twee rondes), en Brandon Stone (11 houe oor op 155 en derde laaste) sukkel kwaai.

Vir volledige tellings klik op die skakel http://www.europeantour.com/europeantour/season=2017/tournamentid=2017092/leaderboard/index.html#/leaderboard

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.