SA se hoop by Britse Ope op Branden Grace

Branden Grace. Foto: AP Photo/Stephen B. Morton

Branden Grace. Foto: AP Photo/Stephen B. Morton

Die Suid-Afrikaner, Branden Grace, begin Donderdagoggend sy aanslag op die Britse Ope-titel by die Royal Troon-gholfklub in Skotland.

Grace is een van die gunstelinge om die vernaamste toernooi ter wêreld te wen. Hy speel tans uitstekende gholf en slaan om 09:03 (Suid-Afrikaanse tyd) saam met die Amerikaner, Patrick Reed en die Suid-Koreaan, Byeong Hun Un, af.

Benewens die wêreld se beste spelers, sal Grace ook rekening moet hou met die gure weer, wat vanaf Vrydag tot Sondag voorspel word met reën en sterk winde wat chaos tydens die toernooi kan veroorsaak

Grace, wat verlede seisoen vierde by die Amerikaanse Ope en derde by die Amerikaanse PGA Kampioenskap geëindig het, beklee tans die 10de posisie op die wêreldranglys.

Hy word deur die gesaghebbende The Open saam met Dustin Johnson, Shane Lowry, Brandt Snedeker en Patrick Reed beskou as een van die voorste vyf gunstelinge om met die gesogte Claret Jug weg te stap.

Die totale prysgeld vir die toernooi is £6,5 miljoen (sowat R123 miljoen) en die wenner kry £1,175 miljoen (sowat R22 miljoen).

♦  Nog agt Suid-Afrikaners, insluitende die vorige Ope-wenners, Ernie Els en Louis Oosthuizen, speel in die 145ste Britse Ope. Die ander ses is Charl Schwartzel, George Coetzee en Richard Sterne en die Ope-debutante, Zander Lombard, Brandon Stone en Haydn Porteous.

♦  Die Ope word vanjaar die negende keer op die indrukwekkende Royal Troon-baan gespeel. Hierdie linksbaan word as een van die moeilikste bane ter wêreld beskou en was al agt keer sedert 1923 gasheer vir die Ope. Dit is interessant dat die baan die kortste en ook die langste putjie van die Ope-bane het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.