SA se hoop nou op Oosthuizen in Nedbank-gholftoernooi

Louis Oosthuizen. Argieffoto: AP Photo/Jae C. Hong

Louis Oosthuizen. Argieffoto: AP Photo/Jae C. Hong

Die derde ronde van die Nedbank-gholftoernooi is Saterdag in baie winderige toestande op die Gary Playerbaan by Sun City gespeel en die Suid-Afrikaners het wisselende sukses gehad.

Die jong Koreaan, Jeunghun Wang, het met die beste ronde van die dag, agt onder syfer, die voortou geneem. Wang het geen hou laat val nie, ses voëltjies en ʼn arend op die tiende putjie behaal en ʼn rondetelling van 66 ingevul en na die drie rondes is hy op 205 elf houe onder syfer.

Hy is nou drie houe voor Louis Oosthuizen, wat Wang effens kans gegee het om asem te skep, met Oosthuizen se twee brouhoue oor die laaste twee putjies.

Oosthuizen is met sy agt onder 208 alleen in die tweede plek, maar die Engelsman, Andy Sullivan, is net een hou agter hom.

Die drie voorlopers sal Sondag saam in die laaste driebal afslaan.

Oosthuizen kon nie sy peil van die tweede dag volhou toe hy ʼn ronde van 66 gespeel het nie. Hy het Saterdag vyf voëltjies behaal, maar op drie putjies ʼn hou afgestaan, waarvan die twee op die laaste twee putjies, onmiddellik na twee voëltjies, ongetwyfeld die seerste gemaak het. Hy het die ronde in 70, twee onder baansyfer, voltooi.

Die toernooi is egter nog geensins vir Oosthuizen neusie verby nie en hy kan Sondag oor die laaste 18 putjies nog inhaal en die eerste Suid-Afrikaner sedert 2007 word wat die toernooi wen.

Andy Sullivan, wat in die derde plek is, het die ronde op 3-onder begin. Hy het twee brouhoue afgestaan, maar ses voëltjies behaal en ʼn ronde van 68 gespeel. Hy het met elke ronde sy telling verbeter: 72; 69; 68.

Branden Grace. Foto: Facebook

Branden Grace. Foto: Facebook

Die Suid-Afrikaner, Branden Grace, het so stil-stil nader aan die voorlopers gekruip en is in die vierde plek saam met die Sweed, Alex Noren.

Noren, wat na die tweede ronde voorgeloop het, het ʼn nagmerrie-ronde beleef. Hy het op die derde putjie twee houe laat val, nog drie brouhoue gespeel en net twee voëltjies aangeteken. Sy rondetelling van 75 plaas hom nou saam met Grace ses houe agter die voorloper, Wang.

♦ Jaco van Zyl, wat na die tweede ronde saam met Oosthuizen en George Coetzee twee agter die voorloper was, het Saterdag nie ʼn goeie dag gehad nie. Van Zyl het ʼn 74 gespeel en hy is saam met Henrik Stenson in die sesde plek op 212, vier onder syfer.

Stenson het, met sy 69, ook nader aan die voorlopers gekruip, maar miskien nie naby genoeg nie.

♦ Coetzee het Saterdag 82, tien houe swakker as syfer, gespeel en is nou heeltemal uit die prentjie, vier houe swakker as baansyfer, na rondes van 69, 69 en Saterdag se 82.

Klik hier vir die volledige tellings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.