SA se Ope-titelkanse daarmee heen

Branden Grace. (Foto: Facebook)

Die Suid-Afrikaners se aanslag op die Amerikaanse Ope-titel op die Erin Hillsbaan in Wisconsin het Saterdag in die derde ronde gesneuwel.

Louis Oosthuizen, wat die beste gevaar het van die vyf wat die afsnypunt oorleef het, is agt houe agter die voorlopers in die gesamentlike 17de plek.

Dit lyk waarskynlik dat daar Maandag ʼn uitspeelronde oor 18 putjies sal wees met vyf spelers wat binne twee houe van mekaar is en nog vier wat binne drie of vier houe agter die voorloper Brian Harman is.

Die Ope is die enigste van die Majors waar daar nog ʼn volle 18-putjie-uitspeelronde is as spelers gelykop eindig.

Harman het Saterdag sy eerste ronde se 67 herhaal het. Hy is nou 12 houe onder syfer met Justin Thomas, Brooks Koepka en Tommy Fleetwood een hou agter hom.

Die voorloper na die eerste ronde, Rickey Fowler, het Saterdag na sy 73 in die tweede ronde teruggeveg met ʼn goeie 68 om op 10-onder nog ʼn goeie wenkans te hê.

♦  Oosthuizen was een van die 18 spelers uit die 68 wat die afsnypunt oorleef het wat Saterdag minder as 70 houe gespeel het. Sy 68 het ses voëltjies en ʼn twee-oor op die 17de ingesluit, en dié putjie het hom stellig sy laaste, reeds vae, kans ontneem om ernstig om die eerste plek mee te ding.

Ernie Els het na hy op twee-onder afgeslaan het, sommer vroeg in sy ronde al teëspoed ervaar wat hom enige onwaarskynlike wenkans ontneem het toe hy vyf houe oor die eerste ses putjies afgestaan het, insluitende ʼn twee-oor op die syfer-vier vierde.

Die 17de het hom ook weer gepootjie en daar het hy óók twee houe ingeboet vir ʼn teleurstellende derde ronde van 79. Els slaan Sondag op 221, vyf houe oor syfer, in 64ste plek af.

Thomas Aiken het drie brouhoue op sy kaart ingevul en by die sewende putjie ook twee-oor op die syfer-vyf gespeel. Na sy 75 in die derde ronde slaan hy Sondag af op 217, een-oor vir die toernooi en 13 houe agter die voorloper.

Branden Grace het na twee syfer-rondes van 72 in die eerste twee rondes Saterdag een hou beter gevaar met twee voëltjies en een brouhou en is dus een hou onder syfer; en Brandon Stone het met sy syfer-73 gelyk aan syfer vir die toernooi gebly.

Klik op die volgende skakel om die volledige telkaart vir die toernooi te sien: http://www.pgatour.com/leaderboard.html

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.