SA se Reto skitter in Riaad

Suid-Afrika se Paula Reto. (Foto: Vaughn Ridley/Getty Images/AFP)

In Riaad in Saoedi-Arabië het Suid-Afrika se Paula Reto uitgemunt op die eerste dag van die Aramco Saoedi Ope-toernooi.

Reto het in Donderdag se eerste ronde ʼn telling van 67 houe (-5) aangeteken, wat haar in die tweede posisie geplaas het, ʼn enkele hou ná Patty Tavatanakit van Thailand (66).

Die SA gholfster het ses voëltjies en ʼn brouhou op haar telkaart ingevul in die Aramco-toernooi wat met ʼn pryspot van $5 miljoen (sowat R95 miljoen) spog en die rykste toernooi op die Europese vroue-reeks is.

Suid-Afrika se voorste vrouespeler, Ashleigh Buhai, is ook in Riaad in aksie, maar het ʼn teleurstellende afskop gehad.

Die eenmalige Major-kampioen is op 73 (+1) sewe houe agter die voorloper en sal beter moet speel as sy enigsins sukses wil smaak. Die ander twee SA spelers in die veld, Casandra Alexander (76) en Nicole Garcia (77), het albei teleurstellende vertonings gelewer.

 

Tiger ‘wisselvallig’

Tiger Woods sê hy was senuagtig, maar het hom nogtans geniet al was sy spel wisselvallig en nie so skerp soos hy wou gehad het nie. Hy het die media toegespreek na die eerste ronde van die Genesis-uitnodigingstoernoooi by die Riviera-gholfklub in Los Angeles.

Die 15-malige Major-kampioen het ʼn telling van 72 houe (+1) op sy telkaart ingevul en is agt houe agter die voorloper, Patrick Cantlay, wat met ‘n 64 (-7) die baan aan die brand gespeel het om die voortou te neem.

Woods se verskyning Donderdag in die uitgelese Genesis-toernooi is die Amerikaner se eerste deelname in ʼn jaar aan ʼn amptelike PGA-toernooi.

Hy het wel in Desember in die Bahamas in die Hero-uitdaagtoernooi gespeel en twee weke daarna ook in die PNC-toernooi saam met sy seun Charlie, maar dit is nie amptelike PGA-toernooie wat vir die verdienstelys tel nie.

Woods het sy terugkeer na die baan in die geselskap van Gary Woodland en Justin Thomas gemaak. Woodland, wat verlede jaar ʼn suksesvolle breinoperasie gehad het, het 70 houe (-1) gespeel, terwyl Thomas soos Woods met ʼn telling van 72 tevrede moes wees.

“Ek was senuagtig, want ek gee om hoe ek speel al is my beste dae verby,” het Woods gesê.

“My spel was wisselvallig. Ek het ʼn hele aantal goeie houe geslaan, maar ook ewe veel swak houe.

“Die skeenhou op die 18de is onverklaarbaar, maar ʼn duidelike bewys dat ek nie skerp is nie.”

Woods het vyf voëltjies op die eerste dag aangeteken, maar ses brouhoue het al sy goeie houe ongedaan gemaak.

“Ek het teen die einde ʼn rugspasma gehad wat my gehinder het, maar andersins was dit ʼn aangename dag in die geselskap van twee goeie vriende.

“Hopelik kan ek môre (Vrydag) beter speel en die naweek nog verder verbeter.

“In die Bahamas het ek elke dag gemakliker gevoel en beter gespeel. Dit vat ʼn bietjie tyd om van al die roes ontslae te raak,” het Woods agterna gesê.

Voorloper Cantlay word op -6 gejaag deur die drietal van Jason Day, Cameron Davis en Luke List, met Tom Hoge, Jordan Spieth en Will Zalatoris op -5 die volgende spelers boaan die voorlopersbord.

Die wêreld se no. 1-speler, Scottie Scheffler, het stewig afgeskop met ʼn 68 (-3), maar die spel se naasbeste, Rory McIlroy, het kleigetrap.

Die Noord-Ier was op -2 op koers voordat ʼn dubbele brouhou op die 15de en drie verlore houe op die 16de hom siedend gelaat het. Hy het uiteindelik 74 houe (+3) gespeel en dek die agterhoede.

Die Suid-Afrikaner Christiaan Bezuidenhout se goeie spelpeil duur voort en hy deel op -2 die 15de plek ná die eerste dag.

 

Voëltjies vlieg op Fancourt

Op plaaslike bodem in die Dimension Data Pro-Am op Fancourt het Bryce Easton sy nuwe besemstok-setyster soos ʼn towerstaf rondgeswaai en nie minder nie as tien voëltjies aangeteken onderweg na ʼn telling van 63 (-9).

Easton was ná die eerste dag van die George-toernooi die voorloper met twee houe nadat hy voordeel getrek het uit die weersomstandighede.

Die oggendveld in die eerste ronde het bewolkte toestande met min wind gehad. Die middagspelers het egter kleigetrap in gure omstandighede wat ʼn sterk wind en reënbuie behels het.

Easton het vandeesweek ʼn nuwe lang setyster in sy gholfsak gesteek nadat hy vir maande probleme op die kort grassies gehad het.

“”Ek het die laaste tyd van die beste gholf van my lewe gespeel, maar glad nie goeie resultate gehad nie.

“Ek het gesukkel om die balletjie in die blikkie te kry en ná baie oorweging het ek besluit om hierdie week ʼn lang besemstok-setyster in te span. Dit was aangenaam om eensklaps weer ʼn paar sethoue in te rol en die voëltjies in te ryg,” het Easton agterna gesê.

Die voorloper word gejaag deur die Fransman Benjamin Herbert (65), wat ʼn foutlose dag beleef het met vyf voëltjies en ʼn arend op die Outeniqua-baan.

Vyf spelers, onder wie Daniel van Tonder tel, deel op -6 die derde posisie, met ʼn groep van sewe spelers, wat Trevor Fisher jr., Hennie du Plessis, Brandon Stone en Oliver Bekker insluit, op -5 in die gesamentlike agtste plek.

Die gerekende Pretorianer Zander Lombard, wat ʼn kookwater-seisoen beleef, het ʼn bevredigende afskop gehad met ʼn telling van 70. So ook die veelmalige Sonskynreeks-toernooiwenner Hennie Otto, wat saam met Lombard op -2 onder die top-40 tel nadat hulle op die moeiliker Montagu-baan in aksie was.

Fisher jr. (67) was die topspeler op die Montagu-baan, met Benjamin Follett-Smith se 69 (-3) wat die beste vertoning op die Links-baan was.

Die 156 deelnemende beroepspelers speel eers al drie Fancourt se bane voordat die veld vir Sondag se laaste ronde verklein word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.