SA spelers se kanse om Britse Ope-titel te wen lyk nie waffers nie

Die Britse koerante en gholfkenners verskil aansienlik oor wie van Donderdag af die Britse Ope op die Royal Birkdale sal wen, maar nie een van hulle noem eens die naam van enige van die nege Suid-Afrikaners wat sal afslaan nie.

Die bekendste is uiteraard Ernie Els, wat die Britse Ope twee keer gewen het. Maar hy is reeds 47, nie werklik meer gemotiveerd en mededingend nie en sal seker verstaan as hy hoor daar moet nie juis geld op hom verwed word nie.

Nog ʼn Suid-Afrikaanse Ope-wenner is Louis Oosthuizen, maar dit was in 2010. Hy het wel ook al in die Amerikaanse Ope en PGA tweede geëindig, maar sy spel is dán lou, dán warm. As hy sy beste ronde vier keer kan herhaal, het hy moontlik ʼn kans.

Charles Schwartzel? Tussen die bestes, maar nie ʼn moontlike wenner nie, moet ʼn mens toegee. Sy beste by die Ope was ʼn sewende plek in 2014, en verlede maand kon hy nie die afsnypunt by die Amerikaanse PGA oorleef nie.

Branden Grace het al vierde in die Amerikaanse Ope en derde in die Amerikaanse PGA geëindig. Dus, heelwat talent. Maar 20ste, sy beste posisie in die Britse Ope, boesem nie vertroue in nie.

Boonop is hierdie “prestasies” van hom al drie in 2015 behaal.

Brandon Stone? Nee wat, sy beste in die Amerikaanse Ope is 35ste plek, en hy het nog nie in die PGA of in die Britse Ope die valbyl oorleef nie.

Vergeet ook maar van Dylan Frittelli, Shaun Norris, Darren Fichardt en Jbé Kruger as moontlike aanspraakmakers.

♦  Die eerste driebal in die Britse Ope slaan Donderdag om 07:35 (SA tyd) af.

Afslaantye van die Suid-Afrikaners –

08:19 – Tom Lehman (VSA), Byeong Hun An (S-Kor), Darren Fichardt (SA)
08:52 – Jason Dufner (VSA), Branden Grace (SA), Bryson DeChambeau (VSA)
09:25 – Younghan Son (S-Kor), David Horsey (Eng), Dylan Frittelli (SA)
10:58 – Louis Oosthuizen (SA), Justin Rose (Eng), Justin Thomas (VSA)
11:31 – Richard Bland, Shaun Norris (SA), Lucas Chianchetti (amateur, It)
13:42 – Ernie Els (SA), Ross Fisher (Eng), Bernd Wiesberger (Oost)
15:15 – Jhonattan Vegas (Ven), Brandon Stone (SA), Sean O’Hair (VSA)
15:48 – Rory McIlroy (N-Ier), Dustin Johnson (VSA), Charl Schwartzel (SA)
17:05 – Jbé Kruger (SA), Nick McCarthy (Eng), Ashley Hall (Aus)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.