SA spelers sukkel by LIV

Louis Oosthuizen (Foto: Eric Espada / Getty Images via AFP)

Die Suid-Afrikaanse Stinger-span (-5) wat bestaan uit kaptein, Louis Oosthuizen, Branden Grace, Dean Burmester en Charl Schwartzel, is ná die tweede ronde van die Mayakoba-toernooi van die LIV-gholfreeks in Mexiko in die sewende plek.

Die tellings van die drie beste spelers word bymekaar gevoeg om die span se telling te bereken.

Die voorlopers is die Crushers (-14) wat bestaan uit Charles Howell lll, Anirban Lahiri, Paul Casey en kaptein Bryson DeChambeau. Hulle is twee houe voor die 4Aces-span (-12) van kaptein Dustin Johnson, Patrick Reed, Pat Perez en die gesamentlike voorloper van die indiwiduele toernooi, Peter Uihlein (-9).

Uihlein en Talor Gooch van die RangeGoats-span is een hou voor Howell lll. Branden Grace (-6) vaar die beste van die Suid-Afrikaners. Oosthuizen (+3) het sy tweede ronde op die 16de putjie verongeluk toe hy ʼn liederlike 7 op die syfer-4 aangeteken het.

In die Honda Classic-toernooi op die Amerikaanse PGA-toer is die Amerikaner Chris Kirk (-13) twee houe voor sy landgenoot Eric Cole (-11) ná die voorlaaste ronde.

Die Suid-Afrikaner Christiaan Bezuidenhout (-4) is in die gesamentlike 20ste plek en Garrick Higgo (-3) in die gesamentlike 31ste plek.

Op die Sonskyntoer waai die wind die spelers deurmekaar in die Nelson Mandelabaai-kampioenskap op die Humewood-baan in Qqeberha. Brendon Timm, hoofbestuurder van die klub, het die winderige derde ronde beskryf as ʼn dag waarop die voëls eerder stap as vlieg.

Die toernooi stuur Sondag af op ʼn spannende einde met ʼn groot groep spelers wat steeds kan wen.

Die Fransman Tom Vaillant (-13) sal afslaan met ʼn een hou voorsprong, maar JJ Senekal (-12), Hennie O’Kennedy (-11), Brandon Stone (-11) en Dylan Mostert (-11) sal die Suid-Afrikaanse aanslag op die titel lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.