Sabbatini wen silwer vir aanneemland

Rory Sabbatini se silwermedalje. (Foto: Kazuhiro NOGI / AFP)

Hy is in Durban gebore en het Britse en Amerikaanse burgerskap, maar Rory Sabbatini het die silwer medalje vir sy aanneemland, Slowakye, in Tokio verower. Dié gholfspeler sou in elk geval nie gekwalifiseer het om vir Suid-Afrika in Japan te speel nie want daar is tien Suid-Afrikaners hoër as hy op die wêreldranglys.

Die 45-jarige Sabbatini het in 2019 burgerskap gekry van Slowakye, sy vrou se geboorteland. Hy het die vierde ronde in ʼn Olimpiese rekord 61 houe, tien onder die baansyfer, voltooi om die voorlopers in te katrol.

Die Amerikaner Xander Schauffele het die goue medalje gewen met ʼn telling van 14 houe onder baansyfer. Sabbatini was een hou agter hom.

Sewe spelers het saam in die derde plek klaargemaak en moes in ʼn uitspeelstryd bepaal wie die brons medalje wen.

Paul Casey (Brittanje) en Hideki Matsuyama (Japan) het eerste uitgeval. Daarna het Sebastián Muñoz (Colombia), Rory McIlroy (Ierland) en Mito Pereira (Chile) dieselfde paadjie geloop. Net die Britse Ope-kampioen Collin Morikawa (Amerika) en Taiwan se Pan Cheng-tsung (bekend in gholfkringe as CT Pan) het staande gebly.

Morikawa, die derde beste speler op die wêreldranglys, het op die 18de sy bal direk in die wal van die sandkuil kort voor die setperk geslaan. Minder as die helfte van die bal het uit die sand gesteek. Pan (nommer 208 op gholf se wêreldranglys) het veilig gespeel en die brons ingeoes.

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout (-11) het in die gesamentlike 16de plek geëindig met sy landgenoot Garrick Higgo gesamentlik 53ste – 18 houe agter die wenner.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.