SA’ner op dreef om by Sun City te wen

Die Johannesburgse gholfster het een hand op die SuperSport-uitdaagtrofee.

Die Johannesburgse golfster, Casandra Alexander. (Foto: Facebook)

Die 23-jarige Alexander sal die derde en laaste rondte van die Sun City-toernooi met ʼn voorsprong van vyf houe aanpak nadat sy Donderdagmiddag ʼn puik telling van 67 houe – vyf houe minder as die baansyfer – op die magiese Gary Player-baan aangeteken het om ʼn stewige voorsprong te neem.

Alexander spog met ʼn totaal van 137 (-7) oor die eerste 36 putjies.

Die Suid-Afrikaner Lee-Anne Pace (69 en 73) en Clara Young van Skotland (71 en 71) is op 142 die naaste spelers aan Alexander, gevolg deur die twee Noorweërs Julie Boysen Hillestad (71 en 72)  en Karoline Lundop (73 en 70) ook nog in die wedloop.

Die Sun City-toernooi is die eerste twee dae deur gure weersomstandighede geteister en Alexander was een van slegs die helfte van die veld wat Donderdag hul tweede rondtes kon voltooi.

Sy het nie minder nie as sewe voëltjies aangeteken, maar twee brouhoue het verhinder dat sy nog verder voorloop.

“Ek het ʼn hele paar sethoue verbrou en nie besef ek het so goed gespeel nie,” het Alexander agterna gesê.

Oor ʼn moontlike oorwinning sê Alexander haar wenplanne behels aggressiewe, maar slim gholf.

“Jy kan nie verdedigend op die Gary Player-baan speel nie. Jy moet aggressief wees, maar terselfdertyd ook slim speel as jy suksesvol wil wees,” sê die tweemalige toernooi-wenner oor ʼn moontlike derde Sonskyn-titel.

Die immergroen Pace, vir jare die koningin van die plaaslike skoonvelde, het eers Vrydagoggend haar tweede rondte voltooi nadat sy Donderdagmiddag deur swak lig van die baan gedwing is.

Pace was Woensdag in die eerste rondte vinnig uit die wegspringblokke en het ná ʼn telling van 69 houe – drie houe minder as baansyfer – die pas aangegee in die eerste toernooi van die Sonskynreeks se nuwe seisoen wat ses toernooie regoor die land behels.

Sy het egter in die tweede rondte wisselvallige spel opgedis en veral min sukses op die setperke gehad. ʼn Dubbele brouhou by die 15de het boonop haar momentum gestuit net toe sy meer gemaklik voorgekom het, maar sy het darem met ʼn voëltjie afgesluit om haar aanspraak op die titel te behou.

Pace is ʼn wenner van 14 titels in die Sonskyn-reeks en spog ook met 12 internasionale seges.

Sy sal egter in die laaste rondte op haar beste moet wees indien sy Alexander na die kroon wil steek.

Kaapstad Ope

Die Spanjaard Manuel Elvira het Donderdag kookwater gholf in die eerste rondte van Bain’s Whisky se Kaapstad Ope opgedis om die dag bo-aan die voorlopersbord af te sluit.

Die 26-jarige boorling van Santander het vier voëltjies en ʼn arend op die Royal Cape-baan aangeteken onderweg na ʼn telling van 66 houe – ses houe minder as baansyfer.

“Ek kon nie vir ʼn beter begin gevra het nie. Teen die einde van die rondte het ʼn lastige wind begin waai en sake bemoeilik.

“Dit is egter wonderlik om in sonskynweer te kan speel. In my geboorteland is dit winter en yskoud, so die Suid-Afrikaanse sonnetjie is baie welkom,” het Elvira ná sy blink vertoning gesê.

Die voorloper word gejaag deur die Durbaniet Jared Harvey en die Engelsman Bradley Bawden wat albei foutlose tellings van 67 aangeteken het.

“Ek het nuwe stokke en om nie ʼn hou aan syfer af te staan nie, is ʼn goeie prestasie. Ek sien uit na die res van die toernooi,” het Harvey agterna gesê.

Agt spelers, onder wie die Suid-Afrikaner Brandon Stone en Alfie Plant van Engeland, deel op 68 die vierde posisie.

Stone het in 2015 die Kaapstad Ope gewen en het drome van ʼn tweede sege in die Moederstad, terwyl Plant Donderdag die kollig op hom laat skyn het met ʼn kolhou op die 13de putjie.

Die Kaapstad Ope is een van vier agtereenvolgende toernooie wat in oorleg met die Europese uitdaagreeks aangebied word en groot prysgeld het.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.