Scheffler draf saam met vier groentjies

Scottie Scheffler in aksie. (Foto: Mike Mulholland / Getty Images via AFP)

Op wie sal jy jou laaste paar rand waag in die laaste ronde van die Houston Ope wat op die Memorial-gholfbaan in Texas beslis word: Op die wêreld se voorste speler op die ranglys of op een van vier ander spelers wat nog nooit ʼn toernooi in die Amerikaanse PGA-reeks kon wen nie?

Dit is die verhaal ná Saterdagaand se derde ronde van dié toernooi.

Die Amerikaner Scottie Scheffler, wat hom by Dustin Johnson probeer aansluit wat laas in 2017 drie toernooie in ʼn ry in die PGA-reeks kon wen, het 66 houe in die derde ronde aangeteken en loop op 201 houe (-9) saam met vier “groentjies” voor.

Hulle is die 42-jarige Engelsman David Skinns (65), Stephan Jaeger van Duitsland (66), Thomas Detry van België (67) en Alejandro Tosti van Argentinië (68) wat almal op soek is na hul eerste oorwinning in die PGA-reeks.

Drie spelers, die Amerikaanse Ope-amateurkampioen Nick Dunlap en sy landgenote Taylor Moore en Akshay Bhatia (hulle het saam nog net een toernooi in die reeks gewen) is saam vyfde op 202 (-8).

Tony Finau, wat ná die tweede ronde voor was, het in die derde ronde effe uitgesak toe hy 72 houe aangeteken het. Hy is saam in die negende posisie op 203 (-7).

Suid-Afrika se Garrick Higgo is 207 houe (-3) saam in die 22ste plek.

* In die Dubai World Tour (Europese reeks) se Indiese Ope wat in Nieu-Delhi beslis word, is Keita Nakajima van Japan op 198 houe (-18) met vier houe voor Gavin Green van Maleisië en Romain Langasque van Frankryk (albei 202, 14).

Hulle word gevolg deur die Italianer Matteo Manassero en Jeon-Weon Ko (Frankryk) wat albei op 203 houe (-13) in die klubhuis geëindig het.

Oliver Bekker het die beste van die Suid-Afrikaners gevaar en is op 209 houe (-7), gevolg deur Pieter Moolman (213), Brandon Stone en Daniel van Tonder (albei 215) en Casey Jarvis (218).

* In die Amerikaanse LPGA-reeks se Ford-kampioenskap wat by die Seville-buiteklub in Gilbert, Arizona gespeel word, loop Hyo-Joo Kim van Suid-Korea, Sarah Schmelzel van Amerika en Carlota Ciganda van Spanje op 201 (-15) saam voor ná die derde ronde.

Hulle word op 202 (-14) gevolg deur Maja Stark van Swede en Yuka Saso van Japan.

Lydia Ko van Nieu-Seeland en Nelly Korda van Amerika is saam met agt ander spelers sesde op 203 (-13).

Suid-Afrika se Ashleigh Buhai, wat 70 houe in die derde ronde aangeteken het, is op 206 (-10) en haar Suid-Afrikaanse landgenoot Paula Reto ʼn verdere hou terug op 207 (-9).

Bron: The Golf Channel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.