Schwartzel is terug ná besering

Charl Schwartzel. Foto: ANA.

Charl Schwartzel kan tevrede voel met sy terugkeer tot die gholfbaan ná sy ronde van 70 (twee houe onder die baansyfer) gister by die Alfred Dunhill-kampioenskap op Leopard Creek in Malelane.

Dit was die Meesterskampioen van 2011 se eerste toernooi in agt maande ná hy ’n gewrigbesering opgedoen het. En hy was baie in sy noppies om weer sy gholfstokke in ’n professionele toernooi te swaai.

“Dit was net lekker om weer op die baan te wees; om weer deel te wees van ’n toernooi. Ek was buite aksie gewees, dus het dit my ’n ruk geneem om weer my voete op die afslaanbof te vind. Maar in die geheel is ek nogal heel tevrede met my spel,” het hy gesê.

Schwartzel het al vier keer op Leopard Creek gewen en hy is gemaklik met die baan se opset, tog bieg hy dat daar skoenlappers in sy maag was en dat daar nie té veel van sy spel verwag moet word nie.

Hy vertel dat hy al in September daaraan gedink het om terug te keer.

“Ek het dit oorweeg om in die Italiaanse Ope te speel, maar kon toe nie eens ’n gholfstok swaai nie. Dit was nogal ’n taamlike terugslag gewees!

“Jy sit by die huis en jy sien hoe die ander ouens speel … Wanneer jy gereeld speel, neem jy dit dikwels as vanselfsprekend op, maar jy verlang beslis na die spel wanneer jy nie deel van die aksie is nie. Om hier rond te stap en te voel hoe die adrenalien deur my are bruis, is ’n wonderlike gevoel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.