Schwartzel kan vroeg-vroeg sy slag wys

Charl Schwartzel – tussen die voorstes (Foto: ANA)

Charl Schwartzel sal Vrydagoggend in  die tweede ronde van die Britse Ope heelwat vroeër afslaan as Donderdag, toe hy met sy voëltjie op die laaste putjie ʼn onverwagte bedreiging vir die voorlopers geword het.

Schwartzel speel weer saam met Rory McIlroy en Dustin Johnson. Hulle slaan om 10:47 (SA tyd) af.

Terwyl laasgenoemde twee nou ses houe agter die gesamentlike voorlopers, Matt Kuchar, Jordan Spieth en Brooks Koepka se vyf-onder is, het Schwartzel sy sesde voëltjie aangeteken en op 66 houe, vier onder baansyfer 70, gaan slaap.

Schwartzel was egter effens wisselvallig. Net 57% van sy bofhoue was op die skoonveld, en hy het by ses putjies nie die setperk met sy naderhou gehaal nie. Sy setwerk was egter goed, en dit het bygedra daartoe dat hy net twee houe, op die sesde en sewende, afgestaan het.

♦ Ernie Els het self effens met sy bofhoue gesukkel, maar met die ruveld wat nie te moeilik was nie, het hy soos Schwartzel goed herstel en op 68, twee houe minder as syfer, klaargemaak. Hy slaan om 08:41 af.

Ernie het met ʼn voëltjie weggespring, en houe by die vyfde, 15de en 16de opgetel. Was dit sy konsentrasie of is dit blote toeval dat hy by die laaste putjies van die eerste en die tweede nege sy twee houe ingeboet het?

♦ Branden Grace (syfer-70), en Darren Fichardt en Shaun Norris (albei 71) is ook nog binne trefafstand, maar Brandon Stone (73) Jbé Kruger (76) en Louis Oosthuizen wat met sy liederlike 78 vyfde laaste is, se mikpunt kan eintlik maar net die afsnypunt wees.

Volledige tellings kan op die skakel https://www.theopen.com/Leaderboard#!/traditional gekry word

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.