Dit was ʼn ietwat droewige eerste twee rondes vir die Suid-Afrikaanse deelnemers in die Britse Ope. Net vier van die agt spelers wat afgeslaan het, het die afsnypunt na die laaste twee rondes oorleef.
Die afsnypunt, gewoonlik vir die voorste 70 spelers, is weens die swaar reën en wind Vrydagmiddag op ʼn tweeronde-telling van 146 (+4) vasgestel.
Die enigste twee Suid-Afrikaners in die toernooi wat al die Britse Ope gewen het, Ernie Els en Louis Oosthuizen, het nie die afsnypunt gemaak nie.
Els en George Coetzee (albei 5+), Brenden Stone (9+) en Oosthuizen wat na ʼn verskriklike 83 in die tweede ronde op 12+ was, se toernooi is verby.
Daar was darem ook die Suid-Afrikaanse ligpunt van Charl Schwartzel, wat -5 in die tweede ronde gespeel het en na twee rondes in die gesamentlike sesde plek met sy vier houe onder baansyfer is.
Hy is vier houe agter die voorloper Phil Mickelson (-10) wat ʼn enkele hou voor die Sweed, Henrik Stenson, is. Stenson het Vrydag ses houe onder syfer gespeel.
Die ander drie Suid-Afrikaners wat in die laaste twee rondes sal speel, is Richard Sterne (gelyk aan baansyfer), Brandon Grace (2+), Zander Lombard (3+) en Haydn Porteus (4+).
Mickelson het die voordeel van twee vroeë afslaantye gehad en dus, veral op die tweede dag, die gure vrygespring.
Daar is min twyfel dat die swaar reën en sterk wind wat voorspel word, weer in die Ope op Royal Troon ʼn vername rol sal speel.
Voorste tellings –
Telling | Speler | Land | 1ste | 2de | Telling |
132 | Phil Mickelson | VSA | 63 | 69 | 132 |
133 | Henrik Stenson | SWE | 68 | 65 | 133 |
135 | Keegan Bradley | VSA | 67 | 68 | 135 |
135 | Soren Kjeldsen | DEN | 67 | 68 | 135 |
137 | Zach Johnson | VSA | 67 | 70 | 137 |
138 | Bill Haas | VSA | 68 | 70 | 138 |
138 | Andrew Johnston | Eng | 69 | 69 | 138 |
138 | Sergio Garcia | Spanje | 68 | 70 | 138 |
138 | Charl Schwartzel | RSA | 72 | 66 | 138 |
138 | Tony Finau | VSA | 67 | 71 | 138 |
139 | Rafa Cabrera Bello | Spanje | 68 | 71 | 139 |
139 | Martin Kaymer | Duits | 66 | 73 | 139 |
139 | Kevin Na | VSA | 70 | 69 | 139 |
139 | Matt Kuchar | VSA | 71 | 68 | 139 |
140 | Dustin Johnson | VSA | 71 | 69 | 140 |
140 | Jim Herman | VSA | 70 | 70 | 140 |
140 | Patrick Reed | VSA | 66 | 74 | 140 |
140 | Francesco Molinari | Italie | 69 | 71 | 140 |
140 | Byeong-Hun An | Korea | 70 | 70 | 140 |
140 | Rory McIlroy | N-Ier | 69 | 71 | 140 |
140 | J.B. Holmes | VSA | 70 | 70 | 140 |
Aanvanklik is gesê dat Brendan Grace Suid-Afrika se enigste hoop in die toernooi is. Ek hou duim vas vir Charl. My geld is op Stenson om te wen.