Schwartzel se beursie kan bult

Charl Schwartzel tydens die LIV-toernooi in Jeddah (Foto: Amer HILABI / AFP)

Suid-Afrika se Charl Schwartzel, wat die eerste toernooi in vanjaar se LIV-reeks in Londen gewen het, is op pad om sy bankrekening met nog ʼn maar miljoen te laat bult in die voorlaaste toernooi in Jeddah in Saoedi-Arabië.

Schwartzel het tellings van 64 en 67 in die eerste twee rondtes aangeteken en is net drie houe agter die voorloper, die Amerikaner Peter Uihlein.

Uihlein is op 128 houe (12 onder baansyfer), met een hou voor in Sondag se derde en laaste rondte.

Uihlein, wat nog net vier toernooie (een in die  Europese reeks, twee in die Korn Ferry-reeks en ʼn toernooi in die Uitdaagreeks-reeks) gewen het sedert hy in 2011 ʼn beroepspeler geword het, het voorheen in die plaaslike Sonskynreeks gespeel en vierde in die Tshwane-Ope geëindig.

Uihlein is een hou voor sy Amerikaanse landgenoot Brooks Koepka (-11) met Schwartzel en die Spanjaard Sergio Garcia saam op 131 (-9), gevolg deur Abraham Ancer van Mexiko en Paul Casey van Engeland op 132 (-8).

Zozo-toernooi

Louis Oosthuizen en Shaun Norris is saam 30ste op 138 houe (-2) met Branden Grace op 140.

In die Zozo-toernooi wat in Tokio in Japan beslis word, was die Amerikaner Keegan Bradley (-15) met een hou voor in die laaste rondte. Hy is gevolg deur nog ʼn Amerikaner, Andrew Putnam (-14), en Emiliano Grillo van Argentinië (-13).

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout en Dylan Frittelli het hul rondtes voltooi en was op 275 saam in die 30ste posisie.

Sonskynreeks

In die Sonskynreeks se Blue Label-toernooi wat by Sun City beslis is, het Stephan Ferreira met 38 Stableford-punte (aangepas) sy eerste oorwinning in die reeks behaal.

Ferreira is gevolg deur Luca Filippi (37), Pieter Moolman (36), Jayden Schaper (35) en Jbé Kruger (30).

Ferreira, wat reeds in 2011 ʼn beroepspeler geword het, se vorige beste vertoning was sy tweede plek in die onlangse SunBet-uitdaagtoernooi by die Wildekus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.