Schwartzel vuurwarm in Jeddah

Charl Schwartzel in aksie. (Foto: Mike Ehrmann/Getty Images via AFP)

Dit was bloedig warm, bedompig en daar was bitter min toeskouers, maar die Amerikaner Brooks Koepka en Suid-Afrika se Charl Schwartzel het in die eerste ronde van vanjaar se voorlaaste LIV-gholftoernooi in Jeddah in Saoedi-Arabië gekook.

Koepka, wat erg deur beserings geteister word en in twee Majors vanjaar nie die afsnypunt kon haal nie, het 62 houe aangeteken, wat agt voëltjies ingesluit het. Schwartzel het hom dit nagedoen, maar ongelukkig op twee putjies houe aan baansyfer afgestaan om op 64 houe te eindig.

Hideto Tanihara van Japan, Peter Uihlein en Patrick Reed (albei van Amerika) het op 65 houe geëindig, met Carlos Ortiz van Meksiko en nog twee Amerikaners Turk Pettit en James Piot, op 66 houe saam sesde.

Suid-Afrika se Louis Oosthuizen is op 68 (-2), Shaun Norris is op 69 (-1) en Branden Grace, wat moedig probeer voortspeel hoewel hy slegs 70% van sy normale vermoë het vanweë ʼn maagspierbesering, het op +1 in die 44ste posisie afgesluit.

Zozo-toernooi

In die Zozo-toernooi wat by die Narashini-buiteklub in Tokio in Japan beslis word, loop die Amerikaner Rickie Fowler op 130 houe (-14) met drie houe voor ná die tweede ronde.

Fowler word gevolg deur sy Amerikaanse landgenote Keegan Bradley en Andrew Putnam (albei op -11) met Talor Moore en Cameron Champ op -10.

Suid-Afrika se Dylan Frittelli (139) en Christiaan Bezuidenhout (141) speel ook in die toernooi.

Andalusiese Meesters

In die Europese reeks se Andalusiese Meesters-toernooi wat in Valderama in Spanje beslis word, loop Angel Hidalgo en Adrian Otaegui van Spanje en Min-Woo Lee van Australië saam voor op 133 houe (-9) ná die tweede ronde van dié toernooi wat deel is van die Dubai World Tour.

Hulle word op 136 houe (-6) gevolg deur Joakim Lagergran van Swede.

Suid-Afrika se Thriston Lawrence is op 138 (-4) met Oliver Bekker (143), Zander Lombard (144), Erik van Rooyen en Louis de Jager albei op 145.

Sonskynreeks

By Sun City in die plaaslike Sonskynreeks loop Stephen Ferreira (30 aangepaste Stableford-punte) voor ná die derde ronde van die Blue Label-uitdaagtoernooi.

Hy word gevolg deur Pieter Moolman (28), Jaco Prinsloo (26) en Jbé Kruger (24) met Jayden Schaper en Luca Filippi (albei 23 punte).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.