Scottie, Dean lag al die pad bank toe

Suid-Afrika se Dean Burmester. (Foto: Sunshine Tour/X)

Wanneer Scottie Scheffler, die voorste gholfspeler op die wêreldranglys, die dag rooiwarm is, word sy vlam nie maklik geblus nie.

Scheffler het Sondagaand by Albany in die Bahamas die Hero Golf Challenge, wat deel is van die Amerikaanse PGA-reeks, op ʼn drafstap met drie houe gewen.

Die Amerikaner, wat 68 houe in die derde ronde aangeteken het, het op 268 houe (-20) geëindig om Sepp Straka van Oostenryk met drie houe uit te stof.

Scheffler het R18,6 miljoen met sy sege verdien nadat hy tellings van 69, 66, 65 en 68 op sy telkaart ingevul het.

Straka, wat 64 houe in die laaste ronde aangeteken het, het op 271 houe (-17) geëindig. Die Amerikaner Justin Thomas was derde op 272 (-16), met Matt Fitzpatrick van Engeland en die Amerikaner Tony Finau saam vierde op 273.

Hulle is gevolg deur die twee Amerikaners Collin Morikawa en Jordan Spieth op 274 (-14).

Die 47-jarige Tiger Woods het 18de uit 20 spelers wat aan die toernooi deelgeneem het, geëindig.

Woods se totaal van 288 houe was gelyk aan baansyfer en hy kan heel ingenome met sy vertoning wees.

Woods, wat laas in April in die Amerikaanse Meesters gespeel het en sedertdien ʼn enkeloperasie ná ʼn ernstige motorongeluk in 2021 ondergaan het, het tellings van 75, 70, 71 en 72 op sy telkaart ingevul.

* Op die Blair Atholl-landgoed in Lanseria het ʼn emosionele Dean Burmester die Suid-Afrikaanse Ope met drie houe gewen nadat hy verlede week ook die Joburg-Ope op die Houghton-baan gewen het.

Burmester, wat nog nooit vantevore twee toernooie in ’n ry kon wen nie, het 68 houe in die laaste ronde aangeteken en op 277 houe (-11) geëindig.

Sy telling was drie houe beter as dié van Renato Paratore van Italië, Jesper Svensson van Swede en die jong Suid-Afrikaner Ryan van Velzen, wat almal op 280 (-8) geëindig het.

Hulle is gevolg deur Alejandro del Rey (Spanje), Frederic Lacroix (Frankryk), Matteo Manassero (Italië) en Suid-Afrika se Louis de Jager en Jayden Schaper, wat almal saam vyfde was op 281 (-7).

Burmester, wat op Grey Kollege in Bloemfontein op skool was en ʼn lid van die Bloemfonteinse klub is, het ná sy oorwinning vertel hoe hy aan die begin van sy loopbaan gesukkel het om kop bo water te hou.

“Ek was ʼn kelner om genoeg geld te verdien om in toernooie te speel. Ek het in die oggende geoefen en het eers elfuur saans doodmoeg huis toe gegaan.

“Met die borgskap van Investec [wat ook die SA Ope se hoofborg is] het ek die geleentheid gekry om my drome te verwesenlik. Ses maande later het ek my eerste toernooi gewen,” het Burmester Sondagmiddag in sy wennersonderhoud gesê.

Altin van der Merwe het as die voorste amateur die Freddie Tait-trofee gewen nadat hy 74 houe in die laaste ronde aangeteken het en op 290, twee houe oor baansyfer geëindig het.

* Burmester, wat in Mutare in Zimbabwe gebore is, se pa, Mark, het vir Zimbabwe krieket gespeel en sy ma, Michelle, hou steeds die baanrekord by die Royal Harare-buiteklub.

Burmester speel sedert verlede jaar saam met Louis Oosthuizen, Charl Schwartzel en Branden Grace vir die Stinger-span in die LIV-gholfreeks. Hy het vanjaar R143 miljoen in 14 toernooie in dié reeks verdien. Saam met die Stingers het hy ʼn verdere R7,7 miljoen losgespeel.

In verlede week se Joburg-Ope was sy prysgeld R4,42 miljoen en Sondag het hy ʼn verdere R4,7 miljoen verdien.

Nooit weer hoef hy as kelner op fooitjies staat te maak nie …

  • Bykomende bronne: Sonskynreeks, National Club Golfer

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.