Scottie raak die kluts kwyt

Scottie Scheffler in aksie. (Foto: Mike Mulholland / Getty Images via AFP)

Die wêreld se voorste speler op die gholfranglys, Scottie Scheffler, het Vrydagaand op die Memorial-baan in Houston, Texas, een van daardie dae beleef waarmee elke gholfspeler vertroud is.

Scheffler se rekordgetal van 28 opeenvolgende rondes onder baansyfer het in die tweede ronde van die Houston-Ope tot ʼn einde gekom, toe hy twee keer met strafhoue gestraf is en sy setyster hom in die steek gelaat het.

Hy het reeds op die eerste putjie ʼn hou aan baansyfer afgestaan wat ʼn einde gebring het aan 50 agtereenvolgende putjies waar hy nie ʼn hou aan baansyfer afgestaan het nie.

Scheffler het op die 18de putjie met twee houe oor baansyfer afgesluit nadat hy, straks weens ʼn gebrek aan konsentrasie, drie keer geset het. Sy bal het egter slegs sowat twee meter van die blikkie te lande gekom.

Klink dit bekend?

Scheffler kon maar net kop skud en sal sekerlik die teleurstelling van sy ronde opsy skuif, want hy is steeds in die wedloop.

Die Amerikaner Tony Finau het die voortou geneem nadat hy 62 houe aangeteken het. Hy het op 131 houe, nege houe onder baansyfer, geëindig en is twee houe voor Alejandro Tosti van Argentinië (133, -7), gevolg deur die Belg Thomas Detry (134,-6) en dan Scheffler en vier van sy landgenote, naamlik Taylor Moore, Joe Highsmith, Ashkay Bhatia en Chad Ramey, asook die Duitser Stephen Jaeger, wat almal saam op 135 houe (-5) geëindig het.

Garrick Higgo (Oktober 2022). (Foto: Jonathan Bachman / Getty Images via AFP)

Suid-Afrika se Garrick Higgo is op 138 (-2) ook in die wedloop en is in die 20ste posisie.

As Scheffler die toernooi wen, sal hy die eerste speler sedert Dustin Johnson (2017) word wat drie agtereenvolgende toernooie in die Amerikaanse PGA-reeks kon wen.

In Nieu-Delhi in Indië loop Keita Nakajima van Japan met twee houe voor ná die tweede ronde van die Indiese Ope, wat deel is van die Dubai World Tour (Europese reeks).

Die tweede ronde is vroeg Saterdagoggend voltooi nadat die ronde Vrydag weens donderweer opgeskort is.

Nakajima het op 130 houe (-14) te staan gekom en is twee houe voor die Fransman Romain Langasque (132, -12), gevolg deur Matteo Manassero van Italië op 133 (-11).

Oliver Bekker het die beste van die Suid-Afrikaners gevaar en is op 138 (-6) in die klubhuis, gevolg deur Pieter Moolman en Brandon Stone (albei 142, -2) met Daniel van Tonder en Casey Jarvis (albei 143, -1) kort op hul hakke.

In die Amerikaanse LPGA-reeks (vroue) se Ford-kampioenskap het die Australiër Hannah Green in die tweede ronde na vore geskiet. Sy is met een hou (130, -14) voor Pei-yun Chen (Taiwan) en Sarah Schmelzel (Amerika). Die twee het albei op 131 (-13) geëindig.

Die Nieu-Seelander Lydia Ko is op 133 (-11) sesde, met Nelly Korda en Celine Boutier van Frankryk saam op 134 (-10).

Suid-Afrika se Ashleigh Buhai het 70 houe in die tweede ronde aangeteken en het op 136 houe (-8) geëindig, met Paula Reto wat op 138 (-6) te staan gekom het.

Bron: Golf Channel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.