Scottie vat voor, Tiger draf net saam

Scottie Scheffler in aksie. (Foto: Mike Mulholland / Getty Images via AFP)

Tiger Woods is aangenaam verras oor hoe hy liggaamlik herstel het ná die derde ronde van die Hero World Challenge-toernooi wat in Albany in die Bahamas gespeel word.

Woods slaan Sondagaand (SA tyd) in die laaste ronde af op 216, 16 houe agter Scottie Scheffler, die voorste speler op die wêreld-gholfranglys.

Woods kan Scheffler, sy Amerikaanse landgenoot, beslis nie inhaal nie, maar vir die 47-jarige Woods gaan dit eerder vir hom oor hoe sy lang herstelproses vorder ná sy enkeloperasie vroeër vanjaar ná sy ernstige motorongeluk in 2021.

Scheffler was vuurwarm en het 65 houe in die derde ronde aangeteken. Hy is op 200 houe (-16) drie houe voor die Engelsman Matt Fitzpatrick (203, -13), gevolg deur Justin Thomas (205, -11) met Jordan Spieth, Collin Morikawa, Tony Finau (almal van die VSA) en Jason Day (van Australië) saam vierde op 206 (-10).

Woods, wat tellings van 75, 70 en 71 houe in die eerste drie rondes aangeteken het, is gelyk aan baansyfer op 216 en saam 16de van die 20 voorste spelers wat aan die toernooi deelneem.

Woods het laas in April aan die Amerikaanse Meesterstoernooi deelgeneem voordat hy hom weens sy beserings tydens die derde ronde onttrek het.

Woods het in sy media-onderhoud ná die derde ronde gesê dat hy geen las oorhou van sy enkel nie, maar dat hy steeds rugprobleme ondervind.

Woods, wat die toernooi as rigtingsaanwyser vir sy toekoms gebruik, hoop om in 2024 een toernooi elke maand te speel.

* By die Blair Atholl-buiteklub in Lanseria het die 20-jarige Casey Jarvis, wat ná die tweede ronde voorgeloop het, in Saterdag se derde ronde van die Suid-Afrikaanse Ope uitgesak toe hy 77 houe aangeteken het.

Maar twee ander jong spelers, Jayden Schaper en Ryan van Velzen, het sy mantel oorgeneem.

Jarvis het op 213 houe (-5) in die klubhuis geëindig, wat hom laat terugsak het tot 18de.

Schaper en Van Velzen (albei 22 jaar oud) het op 207 houe (-9) geëindig en loop saam met een hou voor Louis de Jager (208, -8), gevolg deur die Sweed Jesper Svensson, David Ravetto (van Frankryk), Matthias Schmid (van Duitsland) en Matteo Manassero en Francesco Laporta (albei van Italië) en Suid-Afrika se Dean Burmester, is almal saam vierde op 209 (-7).

Bykomende bronne: BBC en The Golf Channel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.