Sergio wen sy eerste Major na wipplankstryd met Rose

Sergio Garcia gee uiting aan sy vreugde nadat hy Sondag die Meesterstoernooi gewen het (Foto: AP Photo Matt Slocum)

Sergio Gracia het Sondag op die Augustabaan in sy agttiende jaar as beroepspeler sy eerste Major gewen toe hy op die eerste uitspeelputjie met ʼn voëltjie teenoor Justin Rose se vyf houe die Meesterstoernooi gewen het.

Die twee, wat albei op ses houe beter as baansyfer afgeslaan het, was in ʼn wipplankstryd betrokke wat op die 18de putjie gelykop geëindig het op nege houe beter as syfer vir die toernooi.

Albei se puik naderhoue gevolg deur twee verbroude sethoue wat hulle nege uit tien keer sou inrol, het Garcia en Rose na die 18de bof teruggestuur vir die uitspeelfase wat die wenner sou bepaal.

  Dit was ʼn wonderlike dag se gholf op die Augustabaan waar die weer soos Saterdag goed was na die eerste twee dae wat feitlik onmoontlike eise aan die spelers gestel het.

Die twee wat sake teen die einde moes uitspook was in die laaste ronde kop-aan-kop. Charley Hoffman, Ricky Fowler, Thomas Pieters, Jordan Spieth wat vir ʼn rukkie gedreig het om by die voorstes uit te kom, en die ander wat met hoop die laaste ronde aangetree het, het almal mettertyd uitgesak.

Suid-Afrika se Charl Schwartzel, met twee-oor in die eerste ronde met die nat veld en sterk rukwinde, was deurgaans bestendig maar nooit. tussen die voorstes nie. In die laaste ronde het hy egter met ʼn rondetelling van 68 – dieselfde as in die derde ronde – in die derde plek ingeskuif met ʼn telling van 282 houe – ses onder syfer.

Maar die drama het van die laaste paar op die baan gekom wat albei op ses houe onder baansyfer afgeslaan het. Rose het twee-onder syfer oor die eerste nege gespeel, dieselfde as Garcia wat vroeg oor hierdie nege twee houe voor was.

Garcia het toe by die 10de en 11de elk ʼn brouhou gespeel, en dit het neusie verby vir hom gelyk. Hy was twee houe agter Rose.

Die Spanjaard het toe egter met ʼn voëltjie op die 14de en ʼn arend op die 15de vorendag gekom en was skielik ʼn hou voor. Rose was egter nie links nie en het met voëltjies op die 15de en 16de weer sy neus voor gekry net om van sy voorsprong op die 17de afstand te doen met ʼn brouhou.

♦  Benewens Schwartzel het dit Sondag met twee van die ander Suid-Afrikaners redelik gegaan. Louis Oosthuizen se 71 oor die laaste ronde het aan hom ʼn telling van 295, sewe hou swakker as syfer en die 41ste plek, besorg; en Brendan Grace het met 70 houe in die laaste ronde drie-oor vir die toernooi op 291 in die 27ste plek geëindig.

Ernie Els het in wat heelwaarskynlik sy laaste ronde op die baan sal wees, ses houe aan syfer afgestaan en was 20 houe oor syfer vir die toernooi – in 53ste plek die heel laaste van die kwalifiseerders vir die laaste twee rondes.

Om volledige tellings oor die twee rondes te kry, klik op http://www.masters.com/en_US/scores/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gerd Lourens ·

Skitterend Sergio!!! En dit op Seve se verjaarsdag.

Ernie – gaan jou mis in die toernooi.

Goed gedoen Charl.

Waghond ·

Uiteindelik! As daar een speler is wat die titel verdien, is dit Sergio. Wat ‘n speler, wat ‘n man.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.