Sewe SA’ners slaan by Amerikaanse Ope af

Argieffoto van Louis Oosthuizen (Foto: AP Photo/Charles Krupa)

Die Amerikaanse Ope het vandag op die Winged Foot-gholfbaan in New York afgeslaan en oudergewoonte sal daar weer ’n sterk Suid-Afrikaanse aanslag op die silwerware wees.

Louis Oosthuizen sal saam met JC Ritchie, Erik van Rooyen, Christiaan Bezuidenhout, Justin Harding, Shaun Norris en Branden Grace later vandag in aksie wees.

Dustin Johnson en Jon Rahm is ongetwyfeld die gunstelinge om die toernooi te wen en die Suid-Afrikaners sal hul storie moet ken indien hulle op ’n moeilike baan wil presteer.

Oosthuizen – die wêreld se 25ste voorste speler – se beste vertoning in sy afgelope drie toernooie was ’n 13de plek, maar hy was sesde by die FedEx St Jude-uitnodigingstoernooi.

In Van Rooyen (48), Bezuidenhout (52) en Norris (84) het Suid-Afrika drie verdere top-100 spelers. Veral Bezuidenhout kan amok in New York maak – hy het immers ’n indrukwekkende openingsronde van sewe onder die baansyfer tydens The Players-kampioenskap in Florida geslaan.

Die toernooi is egter weens die Covid-19-pandemie afgelas met Bezuidenhout wat in die tweede plek gelê het.

“Dit is baie frustrerend as jy ’n ronde van 65 in jou Players-kampioenskapsdebuut gespeel het en dit tel nie. ’n Ronde van 65 was eintlik dieselfde as ’n ronde van 81 gewees,” het Bezuidenhout destyds gesê.

Hy kry egter nou die geleentheid om weer sy vernuf op een van gholf se grootste internasionale verhoë uit te stal.

Afslaantye van die Suid-Afrikaanse spelers:

12:50: JC Ritchie

13:34: Erik van Rooyen

13:45: Christiaan Bezuidenhout

14:40: Justin Harding

18:10: Shaun Norris

19:05: Branden Grace

19:27: Louis Oosthuizen

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.