Skitterende Noren wen Nedbank-golf; Oosthuizen sak uit

Alex Noren Sondag met die wentrofee van die 2016 Nedbank-gholftoernooi (13 November 2016). Foto: ANA

Alex Noren Sondag met die wentrofee van die 2016 Nedbank-gholftoernooi (13 November 2016). Foto: ANA

Die 2016 Nedbank-gholftoernooi op Sun City se Gary Player-baan is Sondag oortuigend deur die Sweedse speler Alex Noren gewen wat behalwe die wentrofee ook ʼn tjek van $1,16 miljoen (sowat R16,7 miljoen) sal bank.

Die tweede plek behoort aan die oornag-voorloper, die 21-jarige Suid-Koreaan, Jeunghun Wang, wat met die aanvang van die vierde ronde drie houe voor Louis Oosthuizen was. Hy kon nie Sondag sy uitmuntende gholf oor die laaste nege handhaaf nie en eindig ses houe agter Noren.

Wat die Suid-Afrikaanse spelers betref, het Brenden Grace die beste in die laaste ronde gevaar. Hy het ʼn 70 in die laaste ronde gespeel en op sewe onder vir die toernooi geëindig wat aan hom ʼn derde plek saam met vier ander spelers besorg het.

♦ Louis Oosthuizen, wat oornag in die tweede plek was, het ʼn frustrerende ronde beleef waar veral sy setwerk hom in die steek gelaat het. Sy 75, drie oor syfer, het net twee voëltjies ingesluit, maar daar was dubbele brouhoue op die sewende en 17de putjies. Hy het ook ʼn hou op die 16e putjie laat val.

Net soos op Saterdag het die laaste paar putjies hom laat struikel.

♦ Jaco van Zyl was op vier onder baansyfer vir die toernooi in die tiende plek ná ʼn bestendige ronde van 72. Hoewel George Coetzee se 82 in die derde ronde sy wenkans heeltemal verongeluk het, het hy in die laaste ronde vergoed deur twee onder te speel. Sy telling vir die toernooi is twee meer as baansyfer ná rondes van 69, 69, 82 en 70.

♦ Die dag het egter aan Noren en Wang behoort. Wang het die dag as voorloper op 11 houe onder baansyfer begin maar kon nie naastenby sy derde ronde van 64 herhaal nie. Hy het een dubbele brouhou op die agtste gespeel en elders ook nog vyf houe laat val. Hy het darem vier voëltjies behaal en die ronde met 75 houe voltooi.

Noren, wat met die aanvang van die laaste ronde ses houe agter Wang was, het ʼn briljante 63 gespeel, die laagste van die toernooi. Hy het agt voëltjies en ook ʼn arend op die tiende putjie behaal. Sy rondes van 69, 67, 75 en 63 het aan hom sy vierde oorwinning vanjaar in die Europese reeks besorg.

Hy is tans derde op die Europese geldlys voor die finale toernooi in Dubai. Henrik Stenson is eerste op hierdie ranglys en Danny Willett tweede. Branden Grace is sesde en Louis Oosthuizen agtste.

Klik hier vir die volledige tellings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.