Son bly skyn op Du Plessis

(Foto: My Golf Life/Facebook)

Die MyGolfLife-ope wat by die Pecanwood-gholflandgoed by Hartbeespoortdam gespeel word, stuur op ʼn groot armdruk af tussen ʼn paar Suid-Afrikaners, drie Spanjaarde en twee Britte.

Die Suid-Afrikaner Hennie du Plessis, wat op die landgoed woon, het aan sy voorsprong ná die tweede ronde van dié toernooi in die Sonskynreeks en Dubai World Tour geklou toe hy die derde ronde in 70 houe voltooi het.

Op 197 is hy 19 houe onder die baansyfer en een hou voor sy landgenoot Richard Sterne asook drie Spanjaarde, Adri Arnaus, Pablo Larrazabal en Nacho Elvira, wat almal op 199 houe (-17) geëindig het.

Arnaus het met sy 65 houe die beste telling van die dag aangeteken en dis duidelik dat die Spanjaarde baie tuis op dié lowergroen baan is.

Vyf spelers, waaronder nog twee Suid-Afrikaners, Jbé Kruger en Darren Fichardt, is saam met die twee Engelse spelers Ross Fisher en Jordan Smith, en Julien Brun van Frankryk op 201 in die gesamentlike sesde posisie.

Nadat Du Plessis tellings van 62 en 65 houe in die eerste twee rondes aangeteken het, het hy Saterdag drie voëltjies aangeteken, maar op die 14de putjie ʼn hou aan syfer afgestaan.

Arnaus het in sy ronde agt voëltjies aangeteken en net een keer verbrou toe hy op die derde putjie ʼn hou aan baansyfer afgestaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.