Sonskynreeks: Jong Ier voor in Kaapse Ope

Tom McKibbin (2018) (Foto: Tom McKibben/Facebook)

Vra enige gholfondersteuner wie Rory McIIroy is, en hy of sy sal jou dadelik kan antwoord. Maar vra wie Tom McKibbin is en hulle sal net kopskud en vra: “Tom wie?”

Wel, die 19-jarige McKibbin is ook ʼn lid van die Hollywood-gholfklub wat net buite Belfast in Noord-Ierland geleë is en waaraan hy en McIlroy behoort.

McKibbin het Vrydag ná 14 voëltjies in die eerste twee rondes van die Kaapse Ope die voortou geneem nadat hy 62 houe in die tweede ronde op Royal Cape aangeteken het.

McKibbin se 62 ewenaar die baanrekord en ná die eerste twee rondes is hy op 130 (-14) drie houe voor Suid-Afrika se Zander Lombard, wat 65 houe in die tweede ronde aangeteken het op die Rondebosch-baan, wat saam met Royal Cape in die eerste twee rondes van dié toernooi in die Sonskynreeks gebruik is.

Lombard is op 133 (-11) saam met die Spanjaard Ivan Cantero Gutierrez, wat 68 houe op Rondebosch aangeteken het. Hulle word gevolg deur die twee Franse Gary Stal en Felix Mory (albei 134), met die verdedigende kampioen JC Ritchie, Louis de Jager, Keenan Davidse en Pieter Moolman almal op 135 in die gesamentlike sesde posisie.

* In Los Angeles is die Chileen Joaquin Niemann ná twee rondes van 63 houe (126, -16) twee houe voor Cameron Young (128) wat die baanrekord met sy 62 houe laat spat het in die Genesis-toernooi wat deel is van die Amerikaanse PGA-reeks.

Die Amerikaner Justin Thomas (131) is derde met nog ʼn Amerikaner Justin Spieth en die Aussie Adam Scott op 133, maar sewe houe agter Niemann.

Van die Suid-Afrikaners is Erik van Rooyen (139) in die 31ste posisie met Dylan Frittelli op 141 in die gesamentlike 52ste posisie.

* Daar is dié naweek geen toernooi in die Europese reeks nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.