Sörenstam is trots op Amerikaanse eerbetoon; beskou dit in konteks

Annika Sörenstam. Foto: Twitter.

Swede se Annika Sörenstam, wat saam met Suid-Afrika se Gary Player die presidensiële medalje van vryheid in Washington ontvang het, gaan beslis nie verskoning vir die Amerikaanse eerbetoon vra nie.

Die Amerikaanse voetbalafrigter Bill Belichick het sedertdien die medalje van die hand gewys, terwyl Player se seun, Marc, sy pa geroskam het omdat hy die toekenning in ontvangs geneem het.

Die toekenningsplegtigheid is gehou ’n dag nadat betogers, glo hoofsaaklik ondersteuners van pres. Donald Trump, die Kongresgebou in Washington bestorm het.

“Vandat ek in 2019 gehoor het dat ek vir die toekenning benoem is, het ek dit in konteks beskou van die persone wat dit reeds vantevore ontvang het,” het Sörenstam vir Golfweek gesê.

“Die toekenning is vir die eerste keer in 1963 oorhandig aan persone wat van die wêreld ’n beter plek maak.”

Volgens die Sweedse gholfspeler moes die seremonie aanvanklik in Maart verlede jaar plaasgevind het, maar die wêreldwye Covid-19-pandemie het ’n stokkie daarvoor gesteek.

Sy het egter die gebeure by die Kongresgebou betreur en dit as “ ’n donker dag in Amerikaanse geskiedenis” bestempel.

“Wanneer ’n mens alles in ag neem, gaan dit eintlik oor die indiwidue wat die toekenning al in ontvangs geneem het. Ek wil egter nie energie mors deur die heeltyd oor my skouer na die verlede te loer nie, maar eerder om ’n beter toekoms te bou. Ek wil voortgaan om geleenthede vir jong meisies te skep.”

Sörenstam het al tien Major-gholftitels agter haar naam.  Haar ANNIKA-liefdadigheidsorganisasie het al gesorg dat meer as 600 meisies van reg oor die wêreld aan gholftoernooie kon deelneem.

Daar is egter diegene wat glo dat haar aansien as gholfambassadeur nou skade aangedoen is.

“Ek het al na die kommentaar van baie mense geluister – jy kan jouself net die emosie voorstel. Ek luister na die persone wat dinge anders sien, maar ek het nou my gholfhoed op. En ek sal voortgaan om ’n ma, filantroop en gholfspeler te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chris ·

Dit is weereens ‘n bewys van die oneerlikheid en agterbaksheid van die liberaal demokratiese denker. As hy/sy besluit jy volg nie hul denkwyse nie, word jy as die skurk in ie verhaal gebrandmerk. Vryheid van spraak is op almal van toes[assing maar meer vir ander. Wie gee enige iemand die reg om die dame en ander ontvangers te kritiseer wat vir die presidentieele toeenning genomineer is. Onse Marc is net suur druiwe. Dit is vir my ‘n tipiese voorbeeld van bevoorregte persone wat die hand byt wat jou voer. Hy gaan nog een dag skaam kwaad en hartees word oor sy ongevraagde opinie. Wie is vir die toekenning genomineer, hy of pappie. Get over is boy.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.