Spieth wen na drama, arend en drie voëltjies

Jordan Spieth – wen na dramatiese laaste ses putjies (Foto Facebook TheOpen)

Jordan Spieth het Sondagmiddag op die Royal Birkdale-baan die Britse Ope vir die eerste keer gewen ná een van die mees dramatiese eindpogings in die geskiedenis van die roemryke toernooi.

Spieth was een hou agter Matt Kuchar toe hulle op die 14de putjie afslaan. Hy het toe drie voëltjies en ʼn arend van die 14de tot die 17de putjies aangeteken en syfer by die laaste gespeel. Oor dieselfde putjies het Kuchar net een hou teenoor syfer ingehaal met twee voëltjies en ʼn brouhou op die laaste.

Spieth se telling vir die toernooi was 258, 12 minder as syfer en dié van Kucher drie houe swakker, 271. Albei het Sondag 69, een onder syfer, gespeel.

♦  Die twee was op die bof by die 13de gelyk. Toe het Spieth sy bal liederlik na regs gesny en dit het goed 80 meter regs van die skoonveld in ruie gras te lande gekom. Die bal was onspeelbaar. Nadat die skeidsregter uitsluitsel oor Spieth se posisie gegee het, en hyself heen en weer geloop het om die rigting en afstand van sy naderhou na die setperk toe te bepaal, het hy 29 minute later losgetrek.

Teen almal se verwagting in het Spieth wél, oor TV-karavane en ʼn bult wat tussen hom en die setperk was, gepoog om dit te haal. Veilig speel was nie vir hom ʼn opsie nie.

Hy was ʼn paar meter kort, het vandaar af met sy naderhou en setyster geslaag en het dus net die enkele strafhou afgestaan.

Toe is dit of die erns van die Ope hom werklik beetgepak het na die dag se treurige begin. Hy het ʼn hou by die eerste, derde en vierde putjies ingeboet. ʼn Enkele voëltjie by die vyfde en nog ʼn brouhou op die negende het hom by die draaipunt (34) op drie houe swakker as syfer vir die eerste nege gelaat.

Spieth en Matt Kuchar het toe gelyk, op agt onder, die laaste nege aangepak. Toe Spieth by die 13de daardie skewe hou die ruigtes instuur, het dit neusie verby vir hom gelyk.

Maat watwou! Toe teken hy by die kort 14de sy voëltjie aan, slaag met ʼn yslike lang sethou vir die arend op die volgende putjie aan en speel nog twee voëltjies voor sy syfer op die laaste putjie.

Die arme Kuchar het self op die 15de en 17de elk n voëltjie aangeteken, maar was reeds twee houe agter en het toe op die 18de verbrou om klaar te maak soos hulle die ronde begin het: drie agter Spieth.

♦  Branden Grace het na sy geskiedkundige 62 in die derde ronde Sondag syfer gespeel en het gesamentlik in die sesde plek op syfer 280 geëindig – nie sleg nadat hy 45ste na die eerste twee ronde op plus vier was nie.

Sy bestendige syfer-ronde het twee brouhoue, by die sesde en 16de, en voëltjies by die tiende en 17de ingesluit.

♦  Ernie Els het op die eerste twee putjies ʼn hou elk laat val; dit op die sesde herhaal en drie houe meer as syfer oor die eerste nege gespeel. Sy enigste voëltjie by die syfer vyf 15de is voorafgegaan deur nog twee brouhoue en sy 74 het hom op 285, vyf houe oor syfer, in die 61ste plek laat klaar maak.

♦  Charl Schwartzel het een oor gespeel en op 286 geëindig, Brandon Stone het na die eerste putjie waar twee oor op die syfer vier aangeteken, by nog vier houe afgestaan en het op 287 klaargemaak.

♦  Dit was een hou swakker as Shaun Norris, wat na sy eerste drie rondes op syfer 210 was, dit met ses oor in die laaste ronde gaan staan en bederf het vir sy telling van 286.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gerd Lourens ·

Baie geluk Jordan. Jou vasbyt en herstel oor die laaste putjies was iets om te waardeer.

Net vir my baie tragies hoe die Suid Afrikaners alhoe swakker vaar oor die naweek.

Ben ·

Jordan is n wenner.Dit lyk vir my of die Suid-Afrikaners hulle honger om te wen verloor het.Hulle sukkel om vier goeie rondtes te speel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.