Steeds klimtol-gholf op Sun City – en titel wink vir SA

Na ʼn dag waar die onvoorspelbaarheid van gholf en die taai Gary Playerbaan by Sun City die spelers op die telbord sien klim en val het, het Suid-Afrika ʼn redelike kans om Sondagaand na tien jaar weer ʼn kampioen in die Nedbank-uitdaagtoernooi te hê.

ʼn Ronde sonder ʼn brouhou en met vier voëltjies het die Skot Scott Jamieson met ʼn derderonde-telling van 67 na agt onder 208 en die voorste plek laat opskuif waar hy Sondag saam met die Fransman en Vrydag se voorloper, Victor Dubuisson, laaste sal afslaan.

Dubuisson is een hou agter op 209 na sy 71 wat vier voëltjies en drie brouhoue in die derde ronde ingesluit het.

Maar dit is in die gesamentlike derde plek waarin Suid-Afrikaners sal belang stel. Branden Grace het, na sy ietwat teleurstellende 75 op die tweede dag, weer vlamgevat. Hy het vier houe beter as syfer gespeel met sy ses voëltjies en slegs een brouhou oor elk van die eerste en tweede nege, en staan nou op 211 houe, vyf onder syfer.

Saam met hom is Martin Kaymer, wat drie onder syfer gespeel het.

Terwyl Charl Schwartzel na drie rondes steeds gelyk aan syfer is met sy rondes van 69, 73 en 72,   en Louis Oosthuizen met drie bestendige rondes van 71, 73 en 70 ook op syfer 214 staan, het Haydn Porteous verras na sy eerste twee so-so rondes van 73.

Hy het van hom van Vrydagaand se twee houe oor syfer homself Saterdag in die gesamentlike vyfde plek ingespeel. Sy 67 is saam met Tommy Fleetwood en Scott se 67s die beste ronde van die dag.

Op 213 na drie rondes is Porteous egter nog vyf agter die voorloper Scott, en met goeie spelers net bo en onder hom is dit seker onwaarskynlik – maar hy het wel nog ʼn geringe wenkans. Net so Oosthuizen en Schwartzel op 214, wat ses houe moet inhaal teen ʼn klomp goeie spelers voor en net agter hulle.

Darren Fichardt, wat Vrydag verrassend na die gesamentlike tweede plek opgeskiet het, het Saterdag met die dubbele brousyfer op die vyfde en drie verdere brouhoue en net twee voëltjies 75 aangeteken. Hy bevind hom nou op 215, een onder syfer vir die drie rondes. Richard Sterne is ook op 215 na ʼn stewige 69, maar dié twee se wenkanse is daarmee heen.

Die ander spelers van Suid-Afrika se toernooi gaan nou net om eer. Dylan Frittelli het uiteindelik met drie onder reggeruk na twee sukkel-75s op die eerste twee dae. Hy is op 219 gesamentlik 40ste, en Dean Burmeister is na sy 71 saam met George Coetzee (72 Saterdag) op 220.

Brandon Stone is op plus 14 (230) saam met Andy Sullivan heel laaste van die 70 deelnemers nadat Peter Uihlein en Jordan Smith weens beserings onttrek het.

Vir volledige tellings, klik op die volgende skakel: http://www.europeantour.com/europeantour/season=2017/tournamentid=2017092/leaderboard/index.html#/leaderboard

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.