Stingers, asook Koepka, blaas, louwarm

Dean Burmester het die beste van die Stinger-span gevaar. (Foto: David Cannon/Getty Images/AFP)

Die Suid-Afrikaanse Stinger-span, bestaande uit Dean Burmester, Branden Grace, Louis Oosthuizen en Charl Schwartzel, het Vrydagaand (Suid-Afrikaanse tyd) in die eerste ronde van die LIV-gholftoernooi wat op die Trump National-gholfbaan in Washington DC beslis word, vier houe agter die voorlopers geëindig.

Burmester (69, -3) het die beste van die Stinger-span gevaar, met Grace (70, -2) en Oosthuizen (71, -1) wie se tellings in aanmerking gekom het. Schwartzel (72) het gelyk aan baansyfer geëindig.

Die Iron Heads en Range Goats (-10) is saam voor.

Alle oë was op die Amerikaner Brooks Koepka, wat verlede week die Amerikaanse PGA-toernooi gewen het.

Maar Koepka, wat eers laat Donderdag by die baan uitgekom het nadat sy vlug vertraag was, het saam met Schwartzel in die 28ste posisie, gelyk aan baansyfer, geëindig.

Koepka se ronde is verder bederf toe sy drywer halfpad deur die ronde gekraak is.

Alle oë was op Amerika se Brooks Koepka. (Foto: Rob Carr/Getty Images/AFP)

Die Amerikaner Harold Varner III is die voorloper op 64 (-8) nadat hy twee arende in sy ronde aangeteken het.

Varner word gevolg deur James Piot op 66 (-6) met Cameron Smith van Australië, Kevin Na en Andy Ogletree (albei Amerika) en Mito Perreira (Chili) wat almal saam op 68 (-4) klaargemaak het.

* In die Amerikaanse PGA-reeks se Charles Schwab-toernooi wat in Texas beslis word, loop die Engelsman Harry Hall (128, -12) voor met drie houe ná die tweede ronde. Hall het tellings van 62 en 66 in die eerste twee rondes behaal.

Hy word op 131 (-9) gevolg deur die Amerikaner Harris English, met die Argentyn Emiliano Grillo op 132 (-8) in die derde posisie.

Beoyn-Hun An van Korea en die Amerikaners Adam Schenk en Robby Shelton (albei 133, -7) is saam vierde.

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout (138, -2) is tien houe agter Hall.

* In die Europese reeks se KLM-Ope wat by Bernardus Golf in Cromvoirt gespeel word, loop die Spanjaard Jorge Campillo op 134 houe (-10) met twee houe voor die Italianer Renato Paratore (136), met die Nieu-Seelander Daniel Hillier derde (137, -7).

Suid-Afrika se Deon Germishuys is op 141 (-1) met Louis de Jager en Jayden Schaper (albei 144) saam in die 51ste posisie.

* By die Irene-buiteklub het die 26-jarige Louis Albertse, wat onlangs getroud is, sy beste voet voorgesit toe hy die voortou ná die tweede ronde van die KitKat Cash en Carry-toernooi, wat deel is van die Sonskynreeks, geneem het.

Albertse het agt voëltjies en ʼn arend in sy ronde van 64 aangeteken en is op -14, vier houe voor sy naaste teenstanders, Kyle Barker, Wynand Dingle en Yurav Premlall, wat almal saam op -10 geëindig het.

Albertse, wat vanuit die Dundee-klub speel, het 17de op die jongste verdienstelys geëindig nadat hy sewe keer tussen die top tien geëindig het.

* In die Europese LPGA-vrouereeks se Belgiese Ope wat op die Naxhelat-baan in Wanze gespeel word, loop die Sweed Anna Magnusson (66, -6) met twee houe voor Vanessa Knecht (Switserland), Mireia Prat (Spanje), Yuri Onishi (Japan) en Madalene Stavnar (Denemarke), wat almal saam op 68 houe (-4) geëindig het.

Suid-Afrika se Stacy Lee Bregman is op 69 (-3) met Lee-Anne Pace op 73 en Casandra Alexander op 74.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.