Stone laat sy beursie bult in Dubai

Die Suid-afrikaanse Gholfer Brandon Stone (Foto: Christiaan Kotze / AFP)

Die Suid-Afrikaanse gholfspeler Brandon Stone kon weliswaar nie Sondag in Dubai die Dubai Desert Classic-gholftoernooi wen nie, maar wie sal nou kla wanneer jy ʼn koel R5,4 miljoen vir ʼn tweede plek in jou sak kan steek?

Die toernooi is deur die 43-jarige Engelsman Paul Casey gewen wat die derde keer in dié toernooi in die Verenigde Arabiese Emirate baas was.

Casey, wat in 2007 en ook in 2009 in Abu Dhabi gewen het, het die laaste ronde in 70 houe voltooi en op 271 houe, 17 houe onder baansyfer, geëindig.

Stone, wat die laaste ronde in 72 houe voltooi het, was vier houe agter op 275 houe, 13 onder die baansyfer.

Die jong Skot Robert MacIntyre (276) was derde, gevolg deur Laurie Canter van Engeland en die Fin Kalle Samooja, albei op 278.

Stone se aanslag het oor die eerste nege putjies gekwyn toe hy by drie putjies houe aan baansyfer afgestaan het.

Maar hy het hom oor die tweede nege reggeruk en vier voëltjies behaal, maar ʼn vierde hou (op die 12de) aan syfer afgestaan.

Van die ander Suid-Afrikaners het Richard Sterne, wat ná die eerste ronde voor was, 20ste op 282 geëindig nadat hy 69 houe in die laaste ronde op sy telkaart ingevul het.

Christiaan Bezuidenhout (283), Justin Harding (284), Dean Burmester (285), Jayden Schaper (288), Justin Walters (290) en George Coetzee (291) het ook in die prysgeld gedeel.

* In San Diego in Kalifornië is die Mexikaan Carlos Ortiz en Patrick Reed van Amerika op 206 saam voor ná die derde ronde van die Farmers Insurance-toernooi.

Hulle word op 208 gevolg deur Sam Burns (VSA), Lanto Griffin (VSA), Adam Scott (Australië), Viktor Hovland (Noorweë) en Jon Rahm (Spanje).

Louis Oosthuizen is op 213, Dylan Frittelli op 214 en Charl Schwartzel op 215.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eend Bessinger ·

Gee my net 10% daarvan. Ek kan heelwat gate toestop daarmee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.