Sukkel-gholfdag vir SA’ners

Ernie Els van Suid-Afrika.(Foto: Orlando Ramirez/Getty Images/AFP)

Donderdag was nie een van die beste dae vir Suid-Afrika se gholfsterre nie.

In Frisco in Texas het Ernie Els en sy landgenote Retief Goosen en James Kingston se aanslag in die Amerikaanse PGA-kampioenskap vir seniors op ʼn flou noot begin, terwyl Paula Reto se drome van ʼn sege in die Bank of Hope-putjiespelkampioenskap in Las Vegas aan ʼn dun draadjie hang.

En in die Charles Schwab-uitdaagtoernooi in Forth Worth sou net Dylan Frittelli tevrede gewees het met sy vertoning. Hy was die enigste Suid-Afrikaanse speler wat op die eerste dag van dié toernooi in Texas die baansyfer kon oortref en binne trefstand van die weghol-voorloper, Harry Hall van Engeland, kon bly.

Wat die DP World-reeks betref, het Thomas Aiken met ʼn telling van 69 (-3) die beste van die SA spelers vertoon, maar hy is ʼn allemintige ses houe agter die voorloper, die Spanjaard Jorge Campilo, wat ʼn uitmuntende 62 gespeel het.

Els, ʼn viermalige major-kampioen, se visier is op sy eerste grote in die senior reeks nadat hy twee weke gelede tweede in die Kampioene-reeks se eerste major-toernooi van die jaar geëindig het. Die SA ster het egter van meet af nie op sy gemak gelyk nie en hy het uiteindelik drie voëltjies en twee brouhoue aangeteken vir ʼn telling van 71 houe – een hou minder as die baansyfer.

Die voorloper ná die eerste ronde is die Ier Padraig Harrington, wat ʼn foutlose ronde van 64 houe (-8) gespeel het.

Goosen en Kingston het albei tellings van 72 aangeteken.

Goosen het ʼn baie wisselvallige dag op die baan beleef en vyf voëltjies en vyf brouhoue op sy telkaart ingevul, terwyl Kingston swak begin het met twee vinnige brouhoue oor die eerste vyf putjies voordat hy herstel het met twee voëltjies en ʼn arend saam met nog twee brouhoue.

Met nog 54 putjies oor het Els, Goosen en Kingston tyd om Harrington in te haal, maar of dit moontlik gaan wees, is ʼn heel ander saak. Die Ier speel deesdae van die beste gholf van sy loopbaan en hy ding nog gereeld in die strawwe PGA-reeks mee waar hy die jonger spelers opdraande gee.

Reto is Suid-Afrika se naasbeste speler, maar sy beleef vanjaar ʼn sukkelseisoen in die LPGA-reeks vir vroue.

Die hoop was daar dat sy in vandeesweek se putjiespel-toernooi weer haar beste spelpeil kon vind nadat sy verlede jaar die kwarteindronde van die Las Vegas-skouspel gehaal het.

Reto het in Woensdag se eerste rondomtalie-kragmetings met ʼn goeie oorwinning afgeskop toe sy die Yank Sarah Schmeisel met 1 voor verslaan het.

In Donderdag se tweederonde-kragmetings het Reto en Min Lee van Taiwan gelykop gespeel, wat meebring dat die SA ster Vrydag in die laaste groepwedstryde met Celine Boutier van Frankryk moet afreken om as groepwenner tot die laaste 16 deur te dring.

Frittelli beleef soos Reto tot dusver vanjaar ʼn droewige tyd op die gholfbaan, maar Donderdag se vertoning behoort hom ʼn bietjie moed te gee.

Hy het ʼn skaflike 67 (-3) aangeteken.

Christiaan Bezuidenhout (70) was die volgende SA speler boaan die voorlopersbord, maar sy ander landgenote, Garrick Higgo (73), MJ Daffue (73) en Erik van Rooyen (76), was die kluts kwyt.

*In die plaaslike Sonskynreeks was Wynand Dingle en Jovan Rebula die gesamentlike voorlopers ná die eerste ronde van Kit Kat en Cash & Carry se Pro-Am-toernooi op Irene.

Die voorlopers het tellings van 67 (-7) aangeteken.

Rebula is die neef van Ernie Els en die jong gholfster het die spel onder die wakende oog van sy oom op Fancourt aangeleer.

Hy het Donderdag ʼn foutlose dag beleef en sewe voëltjies aangeteken sonder om ʼn hou aan syfer af te staan.

Die voorloper op die Sonskynreeks se verdienstelys, Neil Schietekat, se goeie spelpeil duur voort en hy tel weer onder die voorlopers ná ʼn telling van 67.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.