Sukkeldag by PGA vir sterre én SA spelers

Noord-Ierland se Rory McIlroy maak reg vir ‘n sethou by die eerste rondte van die PGA-toernooi.(Foto: David Cannon/Getty Images/AFP)

Die Oak Hill-gholfbaan buite New York het Donderdag in die eerste rondte van die Amerikaanse PGA-toernooi tande gewys en verskeie van die wêreld se voorste spelers seer gebyt.

Groot kanonne soos Rory McIlroy, Collin Morikawa, Brooks Koepka, Justin Thomas, Cameron Smith, Patrick Reed en Jason Day – om net ʼn paar te noem – het almal op die eerste dag van die jaar se tweede major-toernooi gestruikel en ʼn steil pad lê vir hulle voor indien hulle Sondag sukses wil behaal.

Die stryd om die PGA-titel het van meet af vir almal verkeerd begin met spel wat Donderdagoggend vir bykans twee uur vertraag is weens ryp op die gholfbaan.

Die temperatuur het oornag tot onder vriespunt gedaal en die toernooi-organiseerders het geen ander uitweg gehad nie as om spel te vertraag tot die ryp op die setperke verwyder is en die baan weer speelbaar was.

Weens die vertraging kon nie almal van die altesame 156 deelnemers hul eerste rondtes voltooi nie en dié spelers sal Vrydagoggend vroeg na die baan terugkeer om so te maak.

Die vroeë voorloper is die Amerikaner Eric Cole wat op -5 die pas aangee. Hy het 14 van die 18 putjies voltooi.

Die 34-jarige boorling van Kalifornië se pa is die Suid-Afrikaanse gholfster Bobby Cole en dit is slegs die nuweling se tweede major-toernooi waarin hy meeding.

“As jy speel, speel jy om te wen. Dit is dus aangenaam om my naam bo aan die voorlopersbord te sien en ek is tevrede met hoe sake tot dusver verloop het,” het Cole gesê toe spel gestaak is.

Die voorloper in die klubhuis is Bryson DeChambeau wat ʼn puik telling van 66 (-4) op sy telkaart ingevul het.

Hy word gevolg deur die drietal Scottie Scheffler, Dustin Johnson en Corey Conners wat almal 67 houe gespeel het.

Veral Scheffler, die wêreld se naasbeste speler, was in sy skik met sy foutlose spel.

“Enige dag sonder brouhoue is ʼn goeie dag, so ek is baie tevrede.

“Ek dink ook vandag (gister) was die weersomstandighede die beste wat dit die hele week gaan wees, so dit was belangrik om goed af te skop,” het verlede jaar se Amerikaanse Meesters-kampioen gesê.

Die huidige Amerikaanse Meesters-kampioen, die Spanjaard Jon Rahm, was een van die groot sterre wat Donderdag ʼn nagmerriedag beleef het.

Rahm was ná ses putjies nog een hou minder as syfer, maar sy wiele het eensklaps afgeval en ses verlore houe en ʼn dubbele brouhou op die baan se sewende putjie het die wind uit die Spanjaard se seile geneem en hom op sy knieë gedwing.

Hy wou nie agterna met die media gesels nie.

Die ander groot kanonne wat ʼn powere eerste dag beleef het, McIlroy (71) Morikawa (71), Koepka (72), Thomas (72), Smith (72), Reed (72) en Day (76), sou almal ná hul rondtes hul kop gekrap het oor hul spel.

Veral McIlroy kon nie hond haaraf maak van die bowwe af nie. Hy het slegs twee skoonvelde raakgeslaan en het agterna sy lot bekla.

“Ek weet nie wat fout is nie, maar dit kan vorentoe beslis nie slegter gaan nie,” het die Noord-Ier gesê.

Hy beleef die afgelope drie weke ʼn wisselvallige tydperk op die gholfbaan en selfs die legendariese Tiger Woods het verlede week na hom uitgereik en hom met sy swaai probeer help.

McIlroy het minstens goed teruggeveg nadat hy oor sy eerste nege drie houe meer as baansyfer gespeel het.

Nadat hy by sy 11de putjie ʼn reusesethou van sowat 13 meter vir ʼn syfer ingerol het, het hy twee voëltjies oor die oorblywende sewe putjies aangeteken om te verseker dat hy homself nie heeltemal in die voet skiet op die eerste dag nie.

Vir die vier Suid-Afrikaners in die veld was Donderdag ook ʼn baie lang sukkeldag.

Christiaan Bezuidenhout en Dean Burmester het albei tellings van 73 (+3) aangeteken, met Thriston Lawrence (75) en Ockie Strydom (77) wat rooi sou bloos ná hul vertonings.

Bykomende bron: PGA Tour

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.