Talentvolle Higgo ewenaar ’n Tiger-rekord

Suid-Afrika se Garrick Higgo. Foto: Ben Stansall/AFP.

Suid-Afrika is ’n trotse gholfnasie met internasionale sterre soos Gary Player, Ernie Els en Louis Oosthuizen. Nou kan ’n mens begin om Garrick Higgo se naam in potlood langs hierdie grotes te skryf.

Higgo, wat vandeesweek sy 22ste verjaardag vier, het ’n lekker vroeë geskenk gekry toe hy die Kanariese Eilande-kampioenskap met ses houe gewen het. Dit is sy tweede oorwinning binne die bestek van ’n paar weke.

En gholfliefhebbers kan nie anders as om nader te skuif wanneer hulle die jong Suid-Afrikaner sien speel nie.

Gister se spogvertoning was reeds die derde keer dat hy die septer in die Europese reeks swaai nadat hy verlede jaar ook die Portugal-ope gewen het.

Sodoende het hy die Suid-Afrikaner geword wat die vinnigste drie oorwinnings (Major-toernooie en die Wêreldkampioenskap natuurlik uitgesluit) agter sy naam het, terwyl hy ook een van Tiger Woods se rekords geëwenaar het.

Dit het al twee spelers slegs 26 probeerslae geneem om in drie Europese/PGA-toernooie koning te kraai.

“Dit is ’n onwerklike gevoel; ek het baie goed vandag gespeel. Ek het die bal lekker geslaan en dit het baie vir die senuwees gehelp. Om eerlik te wees kan ek nie glo dat ek so gou weer gewen het nie,” het Higgo gesê.

“Ek het die afgelope ruk baie hard aan ’n hele paar dinge gewerk, terwyl ek ook agtergekom het watter dinge die beste by manier van speel pas en ek gaan daarby bly.”

  • Uitslae van die Kanariese Eilande-kampioenskap:

Garrick Higgo (Suid-Afrika, -27); Maverick Antcliff (Australië, -21); Tappio Pulkkanen (Finland, -20); Adri Arnaus (Spanje, -19); Nicolai Hojgaard (Denemarke, -19); Niall Kearney (Ierland, -19); Andrew Johnston (Engeland, -19); Dean Burmester (Suid-Afrika, -19); Alejandro del Rey (Spanje, -18); Kalle Samooja (Finland, -18); Sebastian Heisele (Duitsland, -18); Louis de Jager (Suid-Afrika, -17).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.