Thriston wil stempel afdruk

Suid-Afrika se Thriston Lawrence. (Argieffoto: Giuseppe Cacace/AFP)

Thriston Lawrence sal vandeesweek in die Investec SA Ope-kampioenskap wil wys waarom hy as die land se voorste speler gereken word.

Die 26-jarige boorling van Mbombela (Nelspruit) sal sy inploffing die afgelope Sondag op Houghton in die laaste ronde van die Joburg-Ope tot vergetelheid wil verdoem en die gesogte SA Ope-titel ʼn tweede agtereenvolgende keer agter sy naam wil skryf.

Lawrence was op Houghton die voorloper met agttien putjies oor, maar kon nie enduit voorbly nie nadat hy vroeg in die laaste ronde gestruikel het.

Die gerekende Dean Burmester, wat deesdae in die LIV-reeks speel, het sy kanse aangegryp en uiteindelik die Joburg Ope-titel ingepalm nadat Lawrence die deur vir sy teenstanders oopgemaak het.

In verlede jaar se SA Ope het Lawrence ook teruggeveg ná ʼn teleurstellende vertoning op Houghton.

Hy het van die begin tot die einde die pas aangegee op die strawwe Blair Atholl-baan neffens die Lanseria-lughawe en sy naam in die geskiedenis van plaaslike gholf verewig deur die wêreld se naasoudste Ope-kroon die eerste keer in te palm.

Die SA Ope is die eerste keer in 1903 gespeel en vandeesweek is die 113de keer dat daar om die land se gesogste gholftitel meegeding sal word.

Die legendariese Gary Player het die SA Ope ʼn ongelooflike dertien keer ingepalm, terwyl die geliefde Ernie Els met vyf titels kan spog.

Hoewel Lawrence se visier duidelik en sekuur op ʼn tweede SA Ope-titel gerig sal wees, sal dit nie so maklik wees om dit te vermag nie.

Burmester het op Houghton gewys hoe vinning dinge kan verander en dat net een slegte hou die doodskoot vir ’n speler se wenkanse kan wees.

Volgens die jongste wêreldranglys is Lawrence (85ste) en Burmester (106) die land se no. 1- en no. 3-spelers, met Erik van Rooyen (87) wat die twee skei.

Van Rooyen is nie in die SA Ope in aksie nie, maar sal aanstaande week op Leopard Creek in die Alfred Dunhill-kampioenskap speel.

Die groot gunsteling om Lawrence en Burmester se wendrome te ontsier, is Christiaan Bezuidenhout.

Bezuidenhout is tans no. 114 in die wêreld nadat hy verlede jaar hierdie tyd die 69ste posisie beklee het.

Die Delmas-boorling was op Houghton nie heeltemal op sy beste nie nadat hy vir sowat ʼn maand niks gespeel het nie en in hierdie tyd ook die eerste keer pa geword het.

Die SA Ope-kampioen van 2020 sal egter vandeesweek beter voorbereid wees ná 72 putjies se gholf op Houghton.

Goeie setwerk is van kardinale belang vir sukses op Blair Atholl, wat die langste baan is waarop die Europese reeks meeding.

Blair Atholl strek oor 8 233 treë en die uitleg het vyf syfers vyf en vyf syfers drie.

Die skoonvelde is wyd en die setperke is groot, wat lei tot langer sethoue as wat normaalweg aangedurf moet word.

“Goeie setwerk is ʼn vereiste vir sukses op Blair Atholl. Nêrens staar langer sethoue jou in die gesig nie omdat die setperke reusagtig groot is,” sê die Engelsman Dan Bradbury.

Bradbury het verlede jaar die Joburg Ope gewen en in al die toernooie in Suid-Afrika waarin hy gespeel het, onder die toptwintig klaargemaak.

“Dit is die aangename weersomstandighede in Suid-Afrika wat my aanspoor.

“Die week kan die hitte egter ʼn struikelblok wees, maar ek hoop om in die wedloop te wees,” sê Bradbury oor sy vooruitsigte in die kampioenskap wat Donderdag afskop.

Altesame 156 spelers ding mee om ʼn pryspot van byna R28 miljoen. Die wentjek beloop sowat R4,75 miljoen.

Afgesien van Lawrence, Burmester, Bezuidenhout en Bradbury is internasionale sterre soos Charl Schwartzel, Edoardo Molinari, Andrew “Beef” Johnstone, Matthews Southgate, Andy Sullivan en Romain Langasque ook in aksie.

Wat die Suid-Afrikaanse aanslag betref, is daar ʼn reuseklomp talentvolle spelers in die veld wat hul drome van ʼn SA Ope-titel kan verwesenlik.

Veterane soos Darren Fichardt, Hennie Otto, Oliver Bekker, Dylan Frittelli en Shaun Norris is steeds goed genoeg om in groot geselskap te presteer, terwyl jonger sterre soos Danie van Tonder, Wilco Nienaber, Nikhil Rama en Christo Lamprecht reeds gewys het hulle weet ook hoe om ʼn gholfstok te swaai.

Soos verlede week op Houghton word ʼn stryd duisend vandeesweek op Blair Atholl in die vooruitsig gestel in die stryd om wêreldgholf se tweede oudste Ope-titel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.