Tiger se ramkat-vertoning op Augusta

Tiger Woods vier sy oorwinning op Augusta. Foto: AP Photo/Matt Slocum.

Dit was slegs twee jaar gelede by die Augusta National-toernooi toe Tiger Woods pynmedikasie moes gebruik om die trappe na die kampioensdinee te klim.

Hy het pas sy vierde rugoperasie ondergaan en was onseker of hy ooit weer lekker met sy twee kinders sal kan speel, om nie eens van Jack Nicklaus se gholfrekord van 18 Major-titels te praat nie.

En nou is alles weer piekfyn: sy lewe, sy rug en selfs sy gholf. ’n Gevalle held en ’n dowwe ster: Woods is weer ’n Meesterskampioen.

Hy het gister sy vyfde groen baadjie en sy 15de Major gewen; maar nooit was daar soveel rou emosie betrokke nie – kyk net na sy adrenalien-gelaaide vuispomp toe hy van die 18de putjie gestap het.

“Vir hulle (sy kinders) om te sien hoe hulle pa ’n groot kampioenskap wen; ek hoop dit is iets wat hulle nooit sal vergeet nie,” het Woods ná die afloop van die dag se verrigtinge gesê.

Maar om eerlik te wees: Wie sal ooit dié dag kan vergeet? “Dit is moeilik om sleg te voel oor my vertoning, want ek het sopas gesien hoe ’n tikkie gholfgeskiedenis voor my oë afspeel,” het Xander Schauffele, een van drie spelers wat in die tweede plek klaargemaak het, gesê.

Woods se terugvegpoging strek verder as die agterstand van twee houe wat hy uitgewis het.

Dit is 14 jaar sedert hy laas die Meesters gewen het – niemand het al so lank vir sy volgende groen baadjie gewag nie. Boonop het hy 11 jaar gelede laas ’n Major-titel ingepalm.

Gister se Augusta-sege was groter en belangriker as almal. Woods het nooit ’n hou gemis nie – of, altans, nie wanneer dit saak gemaak het nie

Die atmosfeer was gelaai met ’n mengelmoes van adrenalien en emosie toe hy van die baan gestap het. “Tiger, Tiger, Tiger!” is hy kliphard toegejuig.

Nog nooit het hy soveel ondersteuners omhels nie – almal wat hom bygestaan het gedurende sy egskeiding, sy dronkbestuur-arrestasie en sy talle rugoperasies.

“Ek het baie in myself getwyfel, veral ná al die gebeure van ’n paar jaar gelede. Ek kon skaars stap óf sit ná my rugoperasies. Om die geleentheid te kry om op só ’n manier terug te kom … dit is sonder twyfel een van die grootste seges van my loopbaan,” het Woods gesê.

“Jy kon nie vir meer drama vra nie. En ek weet nou beslis waarom ek besig is om bles te word,” het hy geskerts.

Nie sleg vir ’n sportheld wie se reputasie aan flarde was te danke aan ’n seksskandaal en wie se rug basies gekrok was nie. Twee jaar het selfs verbygegaan sonder dat hy eens ’n Major gespeel het.

Woods is nou net drie seges agter Nicklaus se rekord van 18 Majors.

“Om ’n lang storie kort te maak, jy wíl teen die legendes speel. Jy wil hulle vierkantig in die oë kyk en sê jy het jou beste teen hulle gegee. Maar jitte, Tiger is net te góéd,” het die Amerikaanse gholfspeler, Brooks Koepka, gesê.

Woods het op ’n 13 onder baansyfer totaal van 275 geëindig om op 43-jarige ouderdom die oudste Meesterskampioen te word sedert Nicklaus destyds sy sesde groen baadjie op die ouderdom van 46 gewen het.

Nicklaus se sege het vir jare die Augusta gedefinieer, maar hy kry nou kwaai teenstand van Woods.

Volgens Koepka is Woods se terugvegpoging een van die beste van alle tye.

Daar het gister weliswaar ’n bietjie reën op Augusta geval, maar dit het lank genoeg weggebly vir Woods om sy groen baadjie te ontvang. Net soos in die goeie ou dae.

Hy het soos ’n nuwe man gelyk; gereed om vir nuwe sportherinneringe te sorg.

“Nou kan ek weer op ’n elite-vlak gholf speel en ek is baie geseënd om dié geleentheid te kry,” het Woods afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Puik ·

Baie uitstekend. Almal verdien n 2de kans. Pas die een op ou Tiger

GOAT ·

Tiger IS golf. GOAT! Ek gee hom 2-3 jaar dan is hy verby 18majors!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.