Toerkampioenskap: Im daag Johnson uit

(Foto: PGA Tour/Twitter)

Sungjae Im van Korea het vroeg Sondagoggend (SA tyd) sterk na vore getree by die halfpadmerk van die geldryke Toerkampioenskap wat in Atlanta gespeel word, maar net toe dit lyk of hy sy neus sou voorkry, sê die wêreld se voorste gholfspeler, Dustin Johnson, aikôna ou maat.

Die 22-jarige Im het die tweede ronde sewe houe agter die 36-jarige Johnson en die Spanjaard Jon Rahm begin. Im het 64 houe op sy telkaart ingevul en die pas aangegee.

Maar Johnson, wat 70 houe aangeteken het, het op die 18de putjie ʼn voëltjie aangeteken om weer die mantel oor te neem.

Die toernooi word volgens ʼn voorgee-stelsel beslis, gegrond op die FedEx-ranglys wat deur die jaar gegeld het.

Johnson is voor op 13 houe onder baansyfer (volgens voorgee) en word gevolg deur Kim (-12), Xander Schauffele (-11), Justin Thomas (-10), Collin Morikawa, Tyrrel Hatton en John Rahm (al drie op -9) en Rory McIlroy (-8).

As die voorgee-stelsel nie gegeld het nie, sou Im en Schauffele (albei 132) gerieflik voor Johnson (137) gewees het, maar dis hoe die toernooi werk met spelers wat vir hul bestendigheid deur die jaar beloon word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae