Toerkampioenskap: Johnson wys weer hakskene  

Dustin Johnson. Foto: AP Photo/David Dermer

Dit is heel gepas dat die Amerikaner Dustin Johnson, wat die eerste posisie op gholf se wêreldranglys beklee, die pas aangee ná die derde ronde van die geldryke Toerkampioenskap wat by die East Lake-buiteklub in Atlanta in die VSA beslis word.

Die toernooi, waaraan die top-30 spelers deelneem op grond van die punte wat hulle deur die jaar op die FedEx-ranglys bepaal het, word op ʼn voorgee-grondslag beslis, wat die voorste spelers die meeste bevoordeel.

Johnson het sewe voëltjies in die derde ronde aangeteken toe hy 64 houe op sy telkaart ingevul het. Hy is 19 houe onder die baansyfer (voorgee in ag geneem) en is vyf houe voor sy Amerikaanse landgenote Xander Schauffele en Justin Thomas (-14) met die Spanjaard John Rahm op -13.

Hulle word gevolg deur Collin Morikawa (-12).

Die Koreaan Sungjae Im, wat Johnson ná die tweede ronde kwaai uitgedaag het, het uitgesak en is op -11 saam met nog ʼn Amerikaner Daniel Berger.

Die kanse dat die Noord-Ier Rory McIlroy die toernooi wen, is straks daarmee heen nadat hy 71 houe aangeteken het en saam met die Engelsman Tyrell Hatton 11 houe agter Johnson is op agt houe onder die baansyfer.

Verlede week was Johnson in dieselfde posisie ná die derde ronde van Amerikaanse PGA en is daar vrae gevra of hy aan sy voorsprong kan klou.

Hy het dit in styl gedoen en baie maklik op Olympic Fields in Illinois geseëvier. Dus, hou maar die vonkelwyn reg en laat sy bankbestuurder glimlag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.