Twee SA’ners deur na finaal van WGC-putjiespeltoernooi

Die suid-Afrikaanse gholfspeler Dylan Frittelli. (Foto: Darren Carroll / GETTY IMAGES )

Dylan Frittelli en Erik van Rooyen het Suid-Afrika se vlag hoog laat wapper toe hulle Vrydag by die Austin-buiteklub in Texas tot die laaste ronde deurgedring het by die WGC-putjiespeltoernooi.

Hulle is twee van net 16 spelers wat vandag (Saterdag) deelneem om te bepaal wie deurdring na die kwarteindrondtes.

Frittelli kom Saterdag teen die Engelse gholfspeler Tommy Fleetwood te staan en Van Rooyen sê die Spanjaard Jon Rahm die stryd aan.

Die halfeindrondes en eindstryd vind Sondag plaas.

Frittelli, wat 64ste en laaste gekeur is, is die laagste gekeurde speler wat sedert die ontstaan van die toernooi in 2015 dit kon regkry om tot die uitspeelrondes deur te dring.

Hy was agter in sy laaste kragmeting in die groepronde teen Will Zalatoris, maar Tony Finau het sy weg oopgebaan toe hy Jason Kokrak geklop het om die deur vir Frittelli oop te laat.

Van Rooyen kom teen Rahm te staan, wat die enigste speler is wat in die toptien gekeur is, wat staande kon bly.

Dustin Johnson (1ste gekeur), Justin Thomas (2de), Collin Morikawa (4de), Bryson DeChambeau (5de) en Xander Schauffele (6de) het almal vasgeval.

Daar was groot drama in die uitspeelwedstryd tussen die Spanjaard Sergio Garcia en die Engelsman Lee Westwood.

Garcia het op die vierde uitspeelputjie ʼn volmaakte gelukhou gespeel om Westwood uit te stof.

Daar was ook ʼn stukkie onsmaaklikheid tussen Kevin Na en Dustin Johnson, toe Johnson uit sy beurt sy balletjie op die setperk opgetel het nadat hy dit nie kon inrol nie. Hy het maar aangeneem dat Na daartoe sou instem.

Na het sy ontevredenheid laat blyk, waarop Johnson brommend en vies weggestap het.

Nóg ʼn Suid-Afrikaner maak skoonskip

In Nairobi het Daniel van Tonder van die Oos-Rand die Kenia Classic gewen nadat Justin Harding die titel so te sê vir hom op ʼn skinkbord gegee het.

Harding, wat verlede week die Kenia-ope gewen het, was na drie rondes voor, maar hy het 73 houe in die vierde ronde aangeteken en saam met Jayden Schaper op 269 houe in die 14de posisie geëindig.

Van Tonder en Jazz Janewattananond van Thailand het albei 64 houe in die laaste ronde aangeteken en op 263 houe geëindig.

Van Tonder het die sege op die derde uitspeelputjie beklink om sy eerste titel in die Europese reeks agter sy naam te skryf.

Suid-Afrika se Jacques Kruyswijk (266) was vyfde, twee houe agter die Engelsman Sam Horsfield en Calum Hill van Skotland (264) met Darren Fichardt saam 10de op 268.

Op die Serengeti-landgoed buite Kemptonpark loop MJ Viljoen (-11) met een hou voor Jaco Prinsloo (-10), Riekus Nortjé (-9) en Jaco Ahlers en Freddy Schott (albei -8) na die derde ronde van die Serengeti Pro Am wat deel is van die Sonskynreeks.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.