Twee uit die tien van SA hou kontak met Wiesberger

Branden Grace – weer SA se voorste (Foto Facebook)

Op ʼn dag waar dit nie te waffers met die tien Suid-Afrikaanse spelers in die Nedbank-uitdaagtoernooi gegaan het nie, het twee van hulle darem kontak met die voorloper, Bernd Wiesberger, behou.

Dit is uiteraard nog baie vroeg in die toernooi op ʼn baan wat wel van die voorste spelers ook nog as slagoffers sal eis, maar na die eerste ronde was dit net Branden Grace, een hou swakker as Wiesberger se minus vyf 67, en Charl Schwartzel, op 69 twee houe agter Wiesberger, wat tevrede sou gaan slaap het.

Miskien darem ook Darren Fichardt, wat eers Donderdagoggend na agtuur gehoor het hy moet die beseerde Engelsman Anthony Wall vervang. Fichardt het 71, een onder syfer, aangeteken en is soos Louis Oosthuizen nou vier houe agter Oostenryk se Wiesberger.

Wiesberger , wat oor die eerste nege maar so-so was en gelyk aan syfer 36 gedraai het, het oor die tweede nege vlamgevat en vyf houe minder as syfer gespeel.

Grace, wat swak begin en houe by die derde en die vierde afgestaan het, was soos in die vorige twee toernooie by Sun City weer die beste onder die Suid-Afrikaners.

Van die Suid-Afrikaners sal veral George Coetzee en Dean Burmeister ongelukkig oor hulle telling van 77, vyf houe swakker as syfer, wees wat aan hulle die gesamentlike 67ste plek uit die 72 deelnemers besorg het.

Dylan Frittelli, wat verlede naweek so goed in  die Turkse Ope gevaar het, is op drie oor self in die moeilikheid maar darem een hou voor Brandon Stone se 76.

Maar daar is nog drie rondes oor … en heelwat talent onder die spelers wat sake kan omkeer.

Vir die volledige telkaart van die eerste ronde, klik op die skakel http://www.europeantour.com/europeantour/season=2017/tournamentid=2017092/leaderboard/index.html#/leaderboard

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.