Tyd dat SA die Sun City-droogte ná tien maer jare beëindig

Kan ʼn Suid-Afrikaner vanjaar die eerste keer sedert Trevor Immelman in 2007 met die louere op Sun City wegstap?

In nege toernooie sedertdien het Tim Clarke een keer derde geëindig en een keer tweede, maar verder was daar weinig Suid-Afrikaanse vertonings om oor opgewonde te raak in Suid-Afrika se “eie” toernooi.

Vanjaar sal dit ook nie maklik wees nie. Daar is ʼn hele aantal sterk buitelandse aanspraakmakers, maar sukses het oor die jare – eers met net 12 deelnemers, toe met 36 en nou met ʼn veld van 72 – telkens ʼn uitskieter-verrassing opgelewer.

Nege Suid-Afrikaners sal van Donderdag af afslaan: Louis Oosthuizen, Brandon Stone, Charl Schwartzel, Dylan Frittelli, Branden Grace, George Coetzee, Dean Burmester, Richard Sterne, Haydn Porteous.

Schwartzel en Oosthuizen tel onder die vier spelers in die veld wat al ʼn Major gewen het, met Padraig Harrington (2007 en ’08) en Marin Kaymer (2010) die ander twee. Kaymer is sedertdien maar louwarm en het nie die hoogtes bereik wat van hom  verwag is nie.

Maar, soos onder andere Schwartzel ook, is daar in die onvoorspelbare spel niks wat sê hy kan nie die naweek wen nie.

Van die ander Suid-Afrikaners sal Louis Oosthuizen, Branden Grace en ook Dylan Frittelli ná sy goeie vertoning in verlede naweek se Turkse Ope in Turkye waar hy eers op die agtiende geklop is en desondanks byna R9 miljoen in sy sak kon steek, met groot verwagtinge en selfvertroue wegspring.

Die Sweed Alex Koren, wat verlede jaar se wenprestasie kan herhaal, en Tommy Fleetwood, vanjaar se voorste speler in die Europese reeks, is twee manne wat tussen die voorste gunstelinge tel.

Nog ʼn Engelsman, Ross Fisher, wat in 2014 tweede was, die Belg Nicolas Colsaerts wie se spel goed by die lang Gary Playerbaan behoort te pas en wat pas ook in Turkye goed vertoon het, die jong Matthew Fitzpatrick, ook van Engeland, en verlede jaar se naaswenner by Sun City, Jeunghun Wang van Suid-Korea, is ander name wat ʼn mens nie juis as buiteperde kan beskryf nie – hul wenkanse is veel beter as dit.

Wang het verlede jaar in winderige omstandighede gewys wat in hom steek toe hy 64 houe in die derde ronde op die Gary Playerbaan gespeel het en is ongetwyfeld een van die groot gunstelinge – veral in ag genome dat sy spelpeil goed is ná sy 65 in die laaste ronde van die Turkse ope.

Die jong Matthew Fitzpatrick, ook van Engeland, het in sy laaste 20 rondes 17 keer beter as syfer gespeel en behoort self met sy bestendigheid en goeie temperament ʼn goeie wenkans te hê.

Tyrrell Hatton, Branden Grace … so kan  jy aangaan oor moontlike wenners.

Maar daar is soveel talent daar, dat volslae gunstelinge moeilik is om te bepaal – maar pasop vir die onverwagte uitskieters as jy ʼn rand of twee by die beroepswedders wil gaan waag!

Die eerste twee drieballe slaan 09:00 Donderdag onderskeidelik van die eerste en die tiende bof af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.