Van Rooyen: ‘Ek kan op die hoogste vlak deelneem’

Erik van Rooyen in aksie. Foto: Michael Sherman/ANA

Suid-Afrika se Erik van Rooyen het aan homself bewys dat hy teen die wêreld se voorste gholfspelers kan kompeteer nadat hy 17de geëindig het by die Britse Ope.

Van Rooyen het die beste van die Suid-Afrikaners gevaar by Carnoustie en gesamentlik 17de geëindig met ʼn 73 in die laaste ronde. Die Italianer Francesco Molinari het die gesogte Claret Jug omhoog gehou ná sy foutlose ronde van 69 (twee houe minder as baansyfer).

“As ek moet terugkyk, was dit net ʼn ongelooflike week. Ek het aan myself bewys dat ek op die hoogste vlak kan deelneem,” het Van Rooyen aan African News Agency gesê. “Ek wil speel en ek wil wen. Ek wil nie net in die top 20 eindig nie.”

Dié 28-jarige het sy ronde perfek begin met twee voëltjies. “Dit was natuurlik die ideale begin, dis net jammer ek kon dit nie volhou nie. Maar ek sal terugkom. Toe ek my naam boaan die telbord gesien het, was dit nogal ʼn ongelooflike oomblik vir my.”

Fransesco Molinari. Foto: AP Photo/Peter Morrison

Volgens Van Rooyen het Carnoustie op die laaste dag sy tande ontbloot. “Dit is wat mense verwag van die Britse Ope. As jy nie op die kruin van jou spel is nie, gaan jy foute maak.”

Louis Oosthuizen was gesamentlik 28ste. Tiger Woods het gewys hy is met mening terug nadat hy in die gesamentlike sesde plek geëindig het, drie houe agter Molinari. Woods was in ʼn stadium die alleenvoorloper.

Kevin Kisner (74), Xander Schauffele (74), Justin Rose (69) en Rory Mcllroy (70) was gesamentlik tweede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Henry ·

Veels geluk aan Erik en ook aan die ander Suid Afrikaners wat op hierdie duiwel van ‘n baan heel skaflik gevaar het. Dit is veral die ‘nuwe’ jonges soos van Rooyen, Brandt, Stone wat getoon het dat hulle vorentoe in Player, Els, Goosen, Schwartzel, Oosthuizen se voetspore kan volg.
Sonder die inmenging van kwotastelsels en ander politieke snert.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.