Van Rooyen op rand van oorwinning

Erik van Rooyen. (Foto: AP Photo/Gerry Broome)

Daar is min dinge wat die Suid-Afrikaanse gholfspeler Erik van Rooyen groter genoegdoening sal gee as ʼn oorwinning in die RCB Heritage-toernooi, wat by Hilton Head-eiland in Suid-Kalifornië beslis word.

Van Rooyen, wat reeds met een oorwinning in die Amerikaanse PGA-reeks spog (Barracuda-kampioenskap in 2021) het die teleurstelling om nie vir die laaste twee rondes van verlede week se Amerikaanse Meesters op Augusta te kwalifiseer nie, op die rak geplaas.

Van Rooyen het vier voëltjies in sy derde ronde van 67 houe aangeteken en nie op een putjie ʼn hou aan baansyfer afgestaan nie. Hy is nou net een hou agter die voorloper, die Amerikaner Harold Vamer III (202, -11), ná die derde ronde van die Heritage-toernooi.

Van Rooyen is op 203 houe (-10) saam met die Amerikaner Patrick Cantlay en Shane Lowry van Ierland tweede.

Van Rooyen het tellings van 69, 67 en 67 op sy telkaart ingevul.

Hy het reeds 14 voëltjies in die eerste drie rondes aangeteken en net vier keer houe aan syfer afgestaan.

Die Oostenryker Sepp Straka en die Amerikaners Aaron Wise, Hudson Swafford en Matt Kuchar is saam vyfde op 204.

Suid-Afrika se Branden Grace en Dylan Frittelli is in die gesamentlike 38ste posisie (209) nadat hulle albei 68 houe in die derde ronde aangeteken het.

Charl Schwartzel (211), wat 71 houe aangeteken het, het tot die 56ste posisie afgeskuif.

Van Rooyen, wat deesdae met ʼn welige weglêsnor spog, sê hy sal dit binnekort moet afskeer, want sy vrou, Rose, hou nie te veel daarvan nie.

Hy het dit aanvanklik vir Kersfees laat groei, maar het so daarvan gehou dat dit steeds by sy bolip pryk.

Die Lotte-kampioenskap

Suid-Afrika se Ashleigh Buhai het by die Hoakalei-buiteklub in Hawaii vierde geëindig in die Lotte-kampioenskap, wat deel is van die Amerikaanse LPGA-reeks.

Buhai het op 282 houe (-7) geëindig ná rondes van 71, 71, 70 en 70.

Die toernooi is deur Hyo-Joo Kim van Korea (277, -11) met twee houe gewen.

Hinako Shibuno van Japan was tweede (279) met Hye-Jin Choi van Korea (281) derde.

Paula Reto van Suid-Afrika, wat ná die derde ronde laaste op die punteleer was, het haarself reggeruk en 66 houe in die vierde ronde aangeteken om op 293 houe te eindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.