Van Rooyen ses houe agter Fowler

Die Suid-Afrikaanse gholfspeler Erik van Rooyen tydens die CJ-bekertoernooi in Las Vegas. (Foto: Christian Petersen/Getty Images/AFP)

Die Suid-Afrikaner Erik van Rooyen byt nog vas by die CJ Bekertoernooi in Las Vegas. Na die derde ronde is hy ses houe agter die voorloper Rickie Fowler en in die gesamentlike tiende plek. Die Amerikaner het laas in 2019 ʼn toernooi gewen en het tot nommer 128 op die wêreldranglys teruggesak.

Fowler (-21) het die derde ronde in 63 houe voltooi, nege houe beter as die baansyfer. Hy is twee houe voor Rory McIlroy (-19). Die man van Noord-Ierland het ʼn foutlose derde ronde van net 62 houe gespeel, ʼn allemintige tien houe beter as die baansyfer. Hy was nege houe agter die voorlopers na die tweede ronde.

Jordan Spieth was onder die voorlopers na die tweede ronde en het in die laaste groep gespeel. Terwyl dit voëltjies om hom gereën het, kon hy eers op die 15de putjie sy eerste voëltjie aanteken. Sy ronde van 72 houe het beteken hy is agt houe agter Fowler.

Louis Oosthuizen het sy derde ronde in 65 houe voltooi, maar hy is steeds 11 houe agter Fowler in die gesamentlike 42ste plek. Branden Grace en Charl Schwartzel beklee die laaste twee plekke onder die 78 spelers wat gekwalifiseer het om die naweek te speel.

Op die Sonskynreeks het Lyle Rowe (+33) van Humewood die Blue Label-uitdaagtoernooi by Sun City gewen. Die toernooi is volgens die aangepaste Stableford-stelsel beslis.

Dit is die 34-jarige Rowe se eerste oorwinning in 5 jaar by die Sonskynreeks. Hy was vier punte voor Dylan Mostert wat met die tweede plek tevrede moes wees. Ruan Korb en Jaco Ahlers was saam derde met 27 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.