Video: Rahm stal toorkunsies uit

Argieffoto van Jon Rahm. (Foto: AP Photo/Charles Rex Arbogast)

Honderde sportjoernaliste het al geskryf hoe ’n betrokke speler sy of haar of haar “toorkunsies uitstal”, maar jy moes net na Jon Rahm se merkwaardige hou gedurende ’n oefenronde vóór die Meesters-gholftoernooi gekyk het om te sien hoe ’n speler vir eens letterlik met ’n bal toor.

Die Spaanse gholfster het gister sy 26ste verjaardag, met wat kenners as een van die beste gholfhoue ooit bestempel, op die 16de putjie van die Augusta-baan gevier. Boonop was dit sy tweede kolhou in twee dae, nadat hy vroeër ook ’n soortgelyke prestasie op die vierde putjie behaal het.

Maar gister se hou was ongetwyfeld die kersie op die koek.

Met ’n paar goed berekende hoppies (drie om presies te wees) is die waterhindernis oorbrug, waarna die bal – amper asof dit bevele van ’n marionetmeester gehoorsaam – al met die lowergroen gras af tot dit in die putjie gerol het.

Kort nadat ’n video van die merkwaardige hou op sosiale media gelaai is, het die internet amper tot ’n stilstand gekom soos Rahm se lof besing is. Binne ’n japtrap het amper drie miljoen kykers die aksie op hul skerms gevolg.

Party het dit as een van die “beste gholfhoue ooit” beskryf, terwyl die Amerikaanse sportverslaggewer Tyler Greever dit as “malligheid” bestempel het.

Maar op die baan was daar net ’n paar spelers en beamptes wat die hou eerstehands kon sien – die werklikheid van beroepsport in die Covid-19-era.

Die Meesters slaan môre amptelik in die Amerikaanse deelstaat van Georgia af en benewens Rahm kan gholfliefhebbers ook na die spel van Jordan Spieth en Louis Oosthuizen uitsien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.